Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ontleder: Daar ís rede tot kommer oor Maimane se huurhuis

’n E-pos waarin Mmusi Maimane, DA-leier, die besonderhede uiteensit rakende ’n huis wat hy in Claremont in Kaapstad huur, het Maandagoggend vroeg in die inmandjie van DA-LP’s en dié van ander bestuurslede geland.

In dié memorandum, wat wyd onder die partystrukture versprei is, verduidelik Maimane die omstandighede rakende die huur van dié huis wat die afgelope naweek in die Sondagkoerante opslae gemaak het.

Rapport het Sondag berig dat Maimane ’n huis in Claremont ter waarde van bykans R4 miljoen in die parlementêre register vir ledebelange as sy eie gelys het terwyl dit nie aan hom behoort het nie.

As die hulp egter op ’n manier met ’n pryskaartjie daaraan geheg sou kom . . . is dit 'n probleem
Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder

Nadat die koerant Maimane oor dié teenstrydigheid uitgevra het, het hy omgeswaai en gesê hy huur eintlik die huis teen “markverwante” huurgeld by ’n jare lange vriend.

Die koerant het vasgestel dat Maimane en sy vrou Natalie se enigste vaste eiendom ’n huis in Roodepoort, Johannesburg, is. Die werklike eienaar van die Claremont-huis is ’n rakmaatskappy wat in die naam van Wessel Jacobs, ’n Durbanse sakeman, geregistreer is, wat die huis in 2017 vir R3,85 miljoen gekoop het.

Jacobs het aan Rapport bevestig Maimane betaal markverwante huurgeld, maar wou nie die huurkontrak aan Rapport beskikbaar stel nie. Jacobs is die eienaar van Jacobs Capital, ’n private beleggingsmaatskappy in Durban en trustee van die Maimane-familietrust, die Kgalaletso Kgosi-trust.

Maimane het 2018 in die register van ledebelange onder meer “W. Jacobs” as een van die bronne van voordele aan hom gelys.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Sondag by navraag gesê Maimane het die huis verklaar omdat hy onder die indruk was dat hy moes verklaar het dat hy die eiendom huur. Hy het eers agterna besef dat dit nie nodig was om eiendom te verklaar wat hy huur nie.

Die DA leier het Maandag in sy e-pos dié verduideliking aan partylede verskaf.

Intussen het adv. Glynnis Breytenbach, voorsitter van die DA se federale regskommissie, Maandag ontken dat sy ooit ’n ondersoek na die kwessie gedoen het.

“Daar was beslis geen ondersoek nie. Mmusi het wel die regskommissie vir advies en ’n mening genader wat die kommissie aan hom verskaf het.”

Mmusi Maimane. Foto: City Press

Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege op Wellington, het Maandag gesê dit wil tog voorkom asof Maimane deur Jacobs gehelp of ondersteun word. Hy verduidelik dan dat almal, insluitend Maimane, die reg het om vriende te hê en dat sy vriende hom mag help.

“As die hulp egter op ’n manier met ’n pryskaartjie daaraan geheg sou kom – met die bedoeling dat Maimane in sy amptelike hoedanigheid wederkerige gunste vir hulle moet doen – is dit ’n probleem. Om sulke probleme te voorkom is juis waarom sulke voordele verklaar moet word,” sê Schwella.

'Dis pogings om Maimane te ondermyn'

Die grootste probleem wat Maimane volgens Schwella het, is waarom hy gesê het die huis behoort aan hom terwyl dit nie die geval was nie.

“Dit mag ’n onwaarskynlike, maar moontlike vergissing in goeie trou aan die kant van Maimane wees. Soos sake nou staan moet Maimane in alle billikheid die kans gegee word om sy kant van die saak te stel,” sê hy.

“Die vraag is of dit nou eintlik ’n oortreding van die party- of parlementêre gedragskode verteenwoordig. Wat sê die parlementêre en party gedragskodes ingevolge die verklaring van voordele en wat het regtig hier gebeur? Dit weet ons nie in dié stadium nie. Dit is ’n saak wat die DA en die parlement moet ondersoek. Die reg en billike prosesse moet hul verloop neem en Maimane het soos pres. Cyril Ramaphosa ook die reg om onskuldig geag te word totdat die teendeel bewys is, of nie.”

Daniel Silke, onafhanklike politieke ontleder, sê die situasie wys op pogings om Maimane te ondermyn, dalk deur middel van berigte of skinderstories namate die DA daarna werk om die party te vernuwe en terwyl daar introspeksie gedoen word.

“Vrae het ontstaan oor of die berig – ongeag die geldigheid daarvan – twyfel oor hom laat ontstaan met verwysing na die nakoming van die reëls van bekendmaking. Dit skep verwarring oor hom en of hy in volle beheer van sy eie sake is,” sê Silke.

“Ek moet sê, dit kom voor asof dit ’n uitgedinkte storie is, eerder as iets wat op lang termyn ’n uitwerking op Maimane se posisie sal hê.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Huurhuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.