Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ontnugtering met ANC toets SA tot die uiterste’

ANC-ondersteuners se ontnugtering oor die party se leë beloftes stuur af op ’n onsekere toekoms vir Suid-Afrikaners, sê Roland Henwood, ’n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP).

“Die politieke stelsel word tot die uiterste getoets en die vraag is hoe lank dit sal neem voordat alles uitmekaarval.”

Hy is een van drie kenners wat vandeesweek op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) die komende verkiesing en die politieke klimaat in die land bespreek.

Politieke ontleders bespreek die komende verkiesing. Van links is dr.Sethulego Matebesi (UV), prof. Dirk Kotzé (Unisa) en Roland Henwood (UP). Foto: Nyaakallo Mahloko

Henwood sê hoewel Suid-Afrikaners maklik kan raai wie die verkiesing sal wen, moet hulle baie bekommerd wees oor die toenemende kompleksiteit in die politieke stelsel, onder meer met onthullings oor staatskaping.

Die nasionale verkiesing op 8 Mei kan belangrik wees, maar nie lewensveranderend nie.

“Wat gebeur as ANC-ondersteuners tot die besef kom dat die regering nie naastenby die vermoë en hulpbronne het om aan ’n fraksie van die verwagtinge wat hulle skep te voldoen nie?”

Verwagtinge en beloftes is altyd deel van die politiek, sê Henwood. Maar hy is bevrees die ontnugtering en vervreemding kan die land op onbekende terrein laat beland.

Die FeesMustFall-optogte was ’n voorsmakie hiervan, “wat nie net sleg is nie, want dit wys jy kan nie die regering se aandag met ’n stemmery kry nie, jy moet hulle trompop konfronteer. Maar dit verswak konstitusionele politiek en druk die land tot breekpunt”.

Die jeug se toenemende betrokkenheid by die land se politiek bring ’n nuwe dinamika.

“Maar die feit dat hulle nie as kiesers registreer nie en op ander fronte die regering konfronteer, veroorsaak morsige politiek.”

Dr. Sethulego Matebesi, politieke ontleder aan die UV, sê die ANC moet begrip hê vir betogers wat kort voor die verkiesing hul eie hulpbronne afbreek.

“Hulle doen dit as ’n laaste uitweg. Hulle sien die deftige voertuie waarin die leiers ry terwyl daar ’n tekort aan geld is.”

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), sê die ANC se steun daal as deel van ’n “anti-politieke beweging”.

“Dit is nie ’n anti-Ramaphosa-gebaar nie, maar ’n pleidooi teen ’n te skerp fokus op die ekonomie en te min aandag aan dienslewering.”

Maar die feit dat hulle nie as kiesers registreer nie en op ander fronte die regering konfronteer, veroorsaak morsige politiek.

Korrupsie is nog ’n rede vir die teenstand teen politiek.

“Ons hoor baie jong mense sê: ‘Ons gee in die algemeen nie meer om vir partypolitiek nie, want dit beloon die korruptes.’ ”

Kotzé meen daar moenie te veel gefokus word op die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa en Mmusi Maimane en op die uitslag van die verkiesing nie, omdat kiesers sterker met ’n party as met ’n leier identifiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.