Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ontsteltenis oor ANC se pensioengeld-voorstel
Enoch Godongwana. Foto: Leon Sadiki

Dit is net nog ’n manier om Suid-Afrikaners se bates van hulle af te neem en te gebruik om die situasie waarin die land hom bevind, te red.

So sê die ekonoom Mike Schüssler in reaksie op ’n uitlating van Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se subkomitee vir ekonomiese transformasie, dat die ANC meen die geld van die land se private en openbare pensioenfondse moet gebruik word om die skuld van sukkelende staatsondernemings soos Eskom en die SAL te delg.

Godongwana het in ’n onderhoud met die Sunday Times gesê dit is ’n beter alternatief as om die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank vir hulp te nader.

“Hoekom moet jy jou tot die IMF en die Wêreldbank wend om geld te leen as daar genoeg geld in die ekonomie is wat jy kan leen, waarskynlik goedkoper en moontlik met ’n kleiner wisselkoers-gevaar,” het hy gesê.

Die land se batebestuursbedryf, wat pensioenfondse, versekeraars en ander beleggers insluit, het na raming sowat R6 000 miljard onder hul bestuur.

Schüssler sê Suid-Afrika kan nie só ’n stap bekostig nie.

“Daar is by my geen twyfel nie dat dit ons sal seermaak. Veral dié mense wat werk het en pensioengeld het, sal seerkry,” sê hy.

“Suid-Afrikaners sal moet terugbaklei en hul stemme dikmaak. Dit is iets (die pensioengeld) wat aan ons behoort wat die staat nou wil hê. Só ’n stap sal ook nie die stelery oplos nie.

Suid-Afrikaners sal moet terugbaklei en hul stemme dikmaak. Dit is iets (die pensioengeld) wat aan ons behoort wat die staat nou wil hê.
Ekonoom Mike Schüssler

“Hulle wil ons geld gebruik om ons (die land se) situasie te red.”

Schüssler meen die vakbonde sal nie baie geneë wees tot so ’n stap nie omdat hul lede onder dié mense is wat sal seerkry.

Hy glo die moontlikheid sal ook baie aandag lok by die ANC se alliansievennote.

Tog het Zingiswa Losi, president van Cosatu, aan die Sunday Times gesê só ’n stap sal beter wees as dat die land hom tot die IMF te wend, omdat ’n lening van die IMF die land se soewereiniteit in gevaar kan stel.

“Wat ons wil hê, is versekering dat die geld gebruik sal word vir die aanvanklike doel en nie vir korrupsie nie.

“Ons wil ook waarborge hê dat die geld sal terugbetaal word,” het Losi gesê.

Die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom sê so ’n stap kan politieke gevolge vir die ANC inhou.

Die party loop die gevaar van ’n teenreaksie uit sy tradisionele ondersteuningsbasis, onder meer omdat dit nie alleen sogenaamde “wit geld” is wat gebruik sal word nie, maar toenemend die pensioengeld van die swart middelklas in Suid-Afrika.

Die dilemma wat die regering het om by die IMF om hulp te gaan aanklop, is dit dat die IMF sterk voorwaardes stel wat die onafhanklikheid van state aantas.

Venter sê die dilemma wat die regering het om by die IMF om hulp te gaan aanklop, is dat die IMF sterk voorwaardes stel wat die onafhanklikheid van state aantas.

Hy sê dat daar al dikwels daarop gewys is dat die dollarwaarde van Suid-Afrikaanse pensioenfondse onder die toptien in die wêreld is en dat die regering dít eerder moet aanwend as IMF-lenings.

Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, het in ’n verklaring gesê Godongwana se uitlatings bevestig ook dat die voorgeskrewe bates nie net beperk sal wees tot die Openbare Beleggingskorporasie se fondse van R2 000 miljard nie.

“As die ANC ernstig daaroor is om die ekonomie te laat groei en beleggings te lok, sal dié stap (om die geld van plaaslike private en openbare pensioenfondse te gebruik) die slegste ding wees om te doen.”

Hill-Lewis sê die ANC is nou bereid om terug te keer tot dieselfde “desperate maatreëls” wat die Nasionale Party-regering destyds ingestel het.

Dit is ’n onverantwoordelike en onaanvaarbare beleidsvoorstel. “Dit behoort deur elke Suid-Afrikaner verwerp word wie se spaargeld in hul pensioenfondse is en wie se toekomstige finansiële sekuriteit afhang van die verantwoordelike bestuur van dié fondse.”

Meer oor:  Skuld  |  Sal  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.