Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Onvoorwaardelike apologie’ van besorgdes oor apartheid

Apartheid is ’n misdaad teen die mensdom én moreel onverdedigbaar.

Só het ’n groep vooraanstaande Afrikaanse Suid-Afrikaners “wat deur apartheid bevoordeel is” Sondag in ’n gesamentlike verklaring verklaar, waarin hulle ook hul ontsteltenis uitgespreek het oor die “onsensitiewe en deursigtige” onlangse pogings om bogenoemde te ontken.

Dié verklaring is uitgereik deur emeritusprofessor Willie Esterhuyse, lid van die raadgewende raad van die Thabo Mbeki-stigting, Dawie Jacobs, ’n voormalige diplomaat en Suid-Afrikaanse ambassadeur in verskeie lande, prof. Wannie Carstens van Potchefstroom, Barend la Grange, bedryfshoof van South Africa Day, dr. Lindie Koorts, historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, Cobus Bester, ’n aanbieder en joernalis, Truida Prekel, ’n innovasie-konsultant en gemeenskapsaktivis, dr. André Bartlett, moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, Ferdi Engelbrecht, entrepreneur, stigter en direkteur van die Privilege-stigting, en Foeta Krige, joernalis, skrywer en voormalige regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme.

Die groep spreek hul berou uit oor “die seerste lyding van ons medelandgenote onder daardie onmenslike en vernederende bestel en teken onvoorwaardelik apologie aan teenoor al ons medelandgenote”.

Die verklaring kom kort nadat ’n herrie rondom die kop van oudpres. FW de Klerk uitgebreek het nadat hy onlangs in ’n televisieonderhoud gesê het dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. Die FW de Klerk-stigting het kort daarna om verskoning gevra en die uitlatings onvoorwaardelik teruggetrek.

Die groep se verklaring Sondag is uitgereik op dieselfde dag dat pres. Cyril Ramaphosa ’n gedenklesing vir die ontslape ANC-strydros Raymond Mhlaba in Vryheid in KwaZulu-Natal gelewer het en waarin hy weer eens na De Klerk oor sy uitlatings gekap het.

Nie Ramaphosa óf die groep het De Klerk regstreeks op die naam genoem nie.

Donderdag in sy repliek op die parlementêre debat oor sy staatsrede het Ramaphosa ook gesê dat dit aan hoogverraad grens om apartheid se impak op elke lewende Suid-Afrikaner te ontken.

Ramaphosa het Sondag in sy gedenklesing onder meer gesê dat die eenheid tussen swart en wit Suid-Afrikaners tans ondermyn word deur diegene wat daarna streef om die “herinnering van ons apartheidsverlede te wil manipuleer deur apartheid voor te stel as iets minder as wat dit eintlik was: ’n misdaad teen die mensdom en ’n misdaad teen die mense van Suid-Afrika.

As daar Suid-Afrikaners is wat steeds glo dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie en dit wil vergelyk met dit wat in ander lande gebeur het, moet hulle wakker skrik en weet dat apartheid inderdaad ’n reuse-misdaad teen die mense van hierdie land was.

“As daar Suid-Afrikaners is wat steeds glo dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie en dit wil vergelyk met dit wat in ander lande gebeur het, moet hulle wakker skrik en weet dat apartheid inderdaad ’n reuse-misdaad teen die mense van hierdie land was.”

Die groep besorgdes het voorts gesê dat hulle hulle ook verbind tot die uitskakeling van ongelykhede voortvloeiend uit apartheid en dat hulle met waardering kennis neem van diverse vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor, asook die privaat sektor en gemeenskapsinisiatiewe om agterstande, armoede en ongelykheid te takel.

“Ons berou die feit dat alle Suid-Afrikaners verhoed is om vryelik op sosiale en ekonomiese terreine te meng en sodoende ontneem is van die genieting van die ryk diversiteit van die Reënboognasie en geïndoktrineer is op die basis van vrees en vooroordeel. Ons nasie is daardeur armer gelaat.”

Die groep skryf hoewel hulle in hul persoonlike hoedanigheid optree, verteenwoordig hulle ook enersdenkende kollegas, vriende en familielede – “ons is dit aan hulle verskuldig om standpunt in te neem. Ons is ook geïnspireer deur die vloedgolf stemme van ooreenstemmende denkers wat opgaan in die media en op sosiale netwerke.

“Ons bevestig plegtig, in ons persoonlike hoedanighede en as ’n kollektief, ons toewyding aan ’n verenigde en nierassige gemeenskap met gelyke geleenthede vir almal,” lui hul verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.