Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Oor water en sneeu by Estina

’n Hoë amptenaar van die Vrystaatse regering het laatmiddag op ’n Vrydag (15 Junie 2012) daarop aangedring dat R30 miljoen dadelik aan die Estina-maatskappy betaal word vir die Vrede-melkprojek.

Anna Fourie, afgetrede adjunk-direkteur-generaal in die tesourie van die Vrystaatse regering, getuig Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek. Foto: Skermgreep

Dít ondanks die feit dat daar géén behoorlike tenderprosedures gevolg is nie en dat Estina nog geen dienste gelewer het nie.

So het Anna Fourie, afgetrede adjunk-direkteur-generaal in die tesourie van die Vrystaatse regering, Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê toe sy getuig het oor die druk wat op haar geplaas is om ’n betaling van R30 miljoen aan Estina te doen.

Dit sou die eerste betaling aan die maatskappy wees om die Vrede-melkplaas te bestuur.

Fourie het getuig daar was dié middag ’n werkfunksie by die Protea-hotel in Bloemfontein. Die funksie het omstreeks 14:00 begin. Fourie is omstreeks 15:30 in kennis gestel dat daar geld nodig is vir ’n projek van die provinsiale departement van landbou.

Sy het gesê die Vrystaatse tesouriehoof, Humphrey Kgomongwe, het gevra sy moet die betaling behartig.

Sy is terug werk toe waar sy besef het dit is ’n groot bedrag geld wat gevra word - R30 miljoen.

Sy het getuig Seipati Dlamini, finansiële hoofbeampte van die Vrystaatse departement van landbou, het by hulle aangesluit.

Die ooreenkomste vir die Estina-projek, wat op 5 Junie 2012 deur die een party en op 7 Junie deur die tweede party onderteken is, is aan haar oorhandig.

Sy het in die dokumente gesien die kontrak is reeds op 15 Mei 2012 aan Estina toegeken. Sy het besef ’n amptelike tenderproses is nie gevolg nie en as die betaling voortgaan, sou dit ’n onreëlmatige uitgawe wees.

Die ooreenkomste vir die Estina-projek, wat op 5 Junie 2012 deur die een party en op 7 Junie deur die tweede party onderteken is, is aan haar oorhandig.

Fourie het gevra of daar ’n lewensvatbaarheidstudie gedoen is. Daar was ook nie in daardie stadium so iets nie. Dié studie is eers gedoen op 20 Oktober 2012, maande nadat Estina die kontrak gekry het om die melkplaas te bestuur.

Fourie het getuig sy het aan Dlamini herhaal die betaling kan nie gedoen word nie, tensy die nodige toestemming verkry is. Dit was boonop al ná 16:00.

Dlamini het daarop aangedring dat die geld betaal moet word, want die mense van oorsee (van Estina) sou die volgende dag daar wees.

Dlamini het haastig geraak en gesê sy moet nog Sasolburg toe ry.

Fourie het getuig sy het verduidelik daar is nie R30 miljoen in die tesourie se bankrekening om uit te betaal nie. Sy het gevra of R5 miljoen sou werk. Dlamini het gesê dit moet R30 miljoen wees of niks.

Volgens Fourie was sy verlig, want sy het besef hulle sal nie die betaling dié Vrydagmiddag hoef te doen nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het uitgewys dat die betaling dus nodig was vir ’n Saterdagoggend. Is dit hoe sake normaalweg is dat betalings oor ’n naweek gedoen word?

Fourie het geantwoord dit is nie normaal nie.

David Maree, ’n landbou-ekonoom wat ook Maandag oor die Vrede-melkplaas getuig het, het na drie dokumente verwys oor die Vrede-melkplaas, die voorstel vir die projek, ’n sakeplan en ’n lewensvatbaarheidstudie.

Hy het getuig volgens die Vrystaatse landboudepartement se sakeplan vir die Estina-melkplaas sou die koeie elkeen 45 liter melk per dag lewer, meer as dubbel soveel as die gemiddeld van 18 tot 22 liter melk wat ’n mens per koei kan verwag.

Anders as dié rooskleurige prentjie wat in die sakeplan vir die Vrede-melkplaas aangedui is, het die melkbeeste op hope gevrek.

Dié studie het wel voorsiening gemaak vir die bestuur van sneeu wat nié ’n faktor is as die klimaat van die Vrede-omgewing in ag geneem word nie.

Oor die keuse van die perseel waar die melkplaas sou wees, het Maree getuig die lewensvatbaarheidstudie wat daaroor gedoen is, moes insluit of daar voldoende skoon drinkwater vir die koeie sou wees, water om die koeie af te koel asook om die melkery-toerusting te was.

Daar was nie voldoende water beskikbaar op die Vrede-melkplaas nie en dit is een van die kernfoute wat die studie uitgewys het, het Maree getuig.

Dié studie het wel voorsiening gemaak vir die bestuur van sneeu wat nié ’n faktor is as die klimaat van die Vrede-omgewing in ag geneem word nie. Volgens Maree dui dit daarop dat daar in die lewensvatbaarheidstudie aangehaal is uit iets wat waarskynlik vir ’n melkplaas in Europa gedoen is. Dié deel van die studie is moontlik net uit ’n ander studie gekopieer en ingevoeg.

Maree het ook getuig op die een bladsy word daar in die laaste paragraaf verwys na 500 melkkoeie, net om in die volgende paragraaf bo-aan die volgende bladsy na 1 000 koeie te verwys.

Maree het getuig volgens die sakeplan moes daar jaarliks R100 miljoen deur die regering gegee word oor ’n tydperk van 5 jaar sodat die Estina-projek “ekonomies lewensvatbaar sal wees.”

“Dit maak nie sin nie. As daar R500 miljoen nodig is, is die projek mos nie ekonomies lewensvatbaar nie,” het hy getuig.

Die kommissie hervat sy sittings Dinsdag om 9:30.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.