Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Gatvol’ op Staatsrede 2020
‘Op ’n punt van (wan)orde...’
EFF stap uit nadat hulle FW, Pravin pak
EFF-lede ontwrig gisteraand die staatsrede. Foto: jaco marais

Die EFF-LP’s, geklee in hul kenmerkende rooi oorpakke en mynhoede. het die gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) aanvanklik vertraag deur beswaar te maak teen die teenwoordigheid van De Klerk as ’n gas in die raadsaal.

Julius Malema, EFF-leier, was nog voordat Thandi Modise, speaker van die NV, die verrigtinge kon begin, op sy voete en met verwysing na De Klerk gesê daar is ’n “moordenaar” in die raadsaal.

Hy het gesê dit was verkeerd van die parlement om ’n uitnodiging aan hom te rig vir die geleentheid.

“Hy is nie bereid om te aanvaar dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was nie.

“Dit is waarom dit verkeerd is dat De Klerk in die openbare galery sit.

“My versoek is dat vir ons om ’n vreedsame sitting te hê, te vra dat die bevelvoerder van (die polisie se) Vlakplaas- (-basis), wat bloed aan sy hande het, die sitting moet verlaat,” het hy geëis.

Modise het die versoek van die hand gewys.

Oudpres. FW de Klerk gisteraand. Foto: jaco marais

Ná talle pogings om die orde te herstel, insluitend dat gestem word op die versoek, het Modise gereël dat die sitting voortgaan.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Dié beswaar is opgevolg met die EFF wat daarop aangedring het dat Ramaphosa vir Gordhan afdank.

Ramaphosa het weer met sy toespraak begin, maar het skaars begin toe Vuyani Pambo, EFF se nuwe woordvoerder, op sy voete was op punt van orde.

“Ons kan nie in die raadsaal sit terwyl miljoene Suid-Afrikaners in donkerte is weens een man nie. Daar is ’n minister wat seker maak die SAL (Suid-Afrikaanse Lugdiens) werk nie. Ons vra dat die president na buite gaan en die aankondig dat Pravin Gordhan nie meer die minister is nie.”

Hy is ondersteun deur ander EFF-LP’s wat daarop aangedring het dat Gordhan moet gaan. “Dank Pravin af,” het dit uit EFF banke opgeklink.

Modise het ná ’n uur die verrigtinge tydelik gestaak.

Pres. Cyril Ramaphosa probeer vergeefs sy staatsrede begin. Foto: jaco marais

Die EFF-LP’s het uiteindelik self uit die raadsaal uitgestap en kon Ramaphosa met sy toespraak begin.

Ramaphosa het onder meer gesê die land staar ’n ontnugterende werklikheid in die gesig.

“Ons ekonomie het langer as ’n dekade nie teen enige betekenisvolle pas gegroei nie.

“Selfs, terwyl werk geskep word, raak die werkloosheidskoers al hoe groter.

“Die herstel van ons ekonomie het vasgedraai terwyl aanhoudende kragtekorte besighede en mense se lewens ontwrig,” het Ramaphosa gesê.

Speaker Thandi Modise en adjunkspeaker Lechesa Tsenoli. Foto: jaco marais

Hy het ook verwys na die talle staatsbeheerde maatskappye en die openbare finansies wat onder erge druk is.

“Dit is julle, die mense van Suid-Afrika wat dié las moet dra terwyl julle gekonfronteer word met stygende lewenskoste, nie uit armoede kan ontkom nie. ”

Hy sê daarbenewens is daar ook die werklikheid van ’n jeug wat meer as ooit toegang het tot onderwys het, waarvan die uitkomste al hoe meer verbeter.

“Daar is ook die werklikheid van perkelose potensiaal, van grond wat ryk is aan minerale, en in die verskeidenheid van plant- en dierelewe wat min gelyke elders in die wêreld het”.

Eskom

Oor Eskom het Ramaphosa gesê dat die volgende stappe gedoen gaan word om vinnig kragopwekkingskapasiteit buite Eskom te verhoog:

  • ’n Ministeriële bepaling sal binnekort uitgereik word om effek te gee aan die Geïntegreerde Hulpbronplan van 2019, wat die netwerkkapasteit met hernubare energie, gas, hidroëlektriese krag, batterystoring en steenkool, sal uitbrei;
  • Die aankoop van noodkrag van projekte wat elektrisiteit in die netwerk kan invoer binne 3 tot 12 maande vandat dit goedgekeur is;
  • Die Nasionale Energiekoördineerder sal seker maak dat alle toepassings by kommersiële en nywerheidsgebruikers vir eie gebruik bo 1 MW binne die voorgeskrewe 120 dae geprosesseer sal word;
  • Daar sal ook maatreëls in plek geplaas word om munisipaliteite wie se geldsake gesond is, in staat te stel om hul eie energie van onafhanklike energieprodusente aan te skaf.
Beurtkrag

“Beurtkrag is die onvermydelik gevolg van Eskom se onvermoë oor baie jare om sy kragstasies weens skuld, die gebrek aan kapasiteit en staatskaping in stand te hou,” het Ramaphosa gesê.

Oor die volgende paar maande, soos Eskom werk om sy bedryfskapasiteit te herstelm, sal maatreëls ingestel word wat “die trajek van die energie-opwekking in die land fundamenteel sal verander”.

“Wat ons moet aanvaar is dat beurtkrag ’n moontlikheid vir die onmiddellike toekoms sal bly sodat Eskom die instandhouding kan doen wat nodig is om elektrisiteitsverskaffing te verbeter.”

Die EFF-LP’s het gisteraand hul dreigement gestand gedoen en vir die eerste keer pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die Nasionale Vergadering ontwrig deur eers oudpres. FW de Klerk en daarna Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, te teiken.

Ramaphosa, wat veronderstel was om sy toespraak om 19:00 te begin, het vier keer vergeefs probeer om met sy toespraak te begin.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.