Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ope stemming vir mosie teen Zuma
Pres. Jacob Zuma. Argieffoto

Die geskiedkundige mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) sal deur ’n ope stemming geskied.

Dit sal dus bekend wees presies hoe elkeen van die 400 lede van die NV gestem het.

Baleka Mbete, speaker van die NV, het Woensdag ingestem tot ’n versoek van die EFF om die mosie te vervroeg. Dit was aanvanklik vir 22 Februarie geskeduleer.

Die ANC het Woensdag aangekondig hy gaan dié mosie steun om van Zuma ontslae te raak.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het gesê die ANC sou eerder sy eie mosie wou indien, maar dit is onmoontlik met die mosie wat reeds op die tafel is. Die ANC sal wysigings aan die bestaande mosie voorstel.

Dit kom nadat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC Maandag besluit het om Zuma as president van die land te herroep.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng moet toesig hou oor die verkiesing van ’n nuwe president van die land. Foto: Argief

Die NV se programkomitee het Woensdag aangekondig:

* Die verkiesing van die nuwe president sal Vrydag om 10:00 plaasvind onderhewig aan ’n direktief van hoofregter Mogoeng Mogoeng.

* Die gesamentlike sitting van die NV en die Nasionale Raad van Provinsies sal om 19:00 Vrydag plaasvind waar die nuwe president die staatsrede sal lewer.

* Die debat oor die staatsrede sal volgende Maandag gehou word.

* Die president sal ’n dag later repliek lewer op die debat.

* Die minister van finansies sal soos geskeduleer volgende Woensdag die begrotingsrede om 14:00 lewer.

Die parlement het in ’n verklaring gesê as die mosie van wantroue slaag, sal Mbete die hoofregter amptelik oor die uitslag inlig en hom versoek om ’n gepaste datum vas te stel vir die verkiesing van ’n nuwe president deur die NV.

Die hoofregter is verantwoordelik om as voorsitter op te tree tydens die verkiesing van ’n nuwe president, of mag ’n ander regter aanwys om dit te doen.

Ingevolge die Grondwet moet die verkiesing om ’n nuwe president te kis op ’n tyd en datum plaasvind wat vasgestel is deur die hoofregter, maar nie meer as 30 dae nadat die vakante pos ontstaan het nie.

Sodra die hoofregter aan die speaker geskryf het oor ’n tyd en datum wat hy as gepas beskou om ’n president te kies, sal sy brief in parlementêre dokumente gepubliseer word vir kennisname deur LP’s.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Baleka Mbete  |  Stemming  |  Parlement  |  Ope Stemming  |  Mosie Van Wantroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.