Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opname: Juju minder gewild

Julius Malema, EFF-leier, se steun het die afgelope nege maande met vyf persentasiepunte afgeneem en is nou net-net minder as Jacob Zuma s’n toe hy as president bedank het.

Die jongste opname van die South African Citizens Surveys (Sacs) toon Malema se gewildheid onder Suid-Afrikaners staan tans op 25%.

Sacs voer kwartaalliks persoonlike onderhoude met ’n landwye steekproef van 3 900 Suid-Afrikaners. In die vierde kwartaal van 2018 het Malema se gewildheid op 30% gestaan.

Die huidige 25% het konstant gebly ondanks die feit dat die EFF 10,79%-steun in die verkiesing van 8 Mei gekry het.

Die ANC se 57,5%-steun in die verkiesing was sowat vyf persentasiepunte laer as in 2014 se verkiesing.

Tog het pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid in die tweede en derde kwartaal ook konstant gebly op 62%. Dit het toegeneem van die eerste kwartaal se 57%.

‘Die DA is onder geweldige druk.’

“Die ANC is die meerderheidsparty, en dit is duidelik die ANC-leiers is gewilder onder die meeste Suid-Afrikaners as dié van die minderheidspartye.”

Adj.pres. David Mabuza het 22% (een persentasiepunt meer as in die vorige meting) gekry in die opname wat tussen Julie en Augustus gedoen is.

Tito Mboweni (26%) en Pravin Gordhan (23%), ministers van finansies en van openbare ondernemings, het elk nou drie persentasiepunte minder.

Tog het Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, s’n met vier persentasiepunte gestyg tot 15%.

Mmusi Maimane, destydse DA-leier, was in 2016 en tot die tweede kwartaal van 2017 nog gewilder as Ramaphosa, wat toe nog adjunkpresident van die land was.

Ramaphosa se gewildheid het daarna – in die aanloop tot sy verkiesing as ANC-leier in Desember 2017 – drasties toegeneem.

Dit was in die tweede kwartaal van 2018 en ná sy “Thuma mina”-toespraak in die parlement die hoogste – op 64%. Sy gewildheid word nou op 62% gemeet.

Maimane was deurgaans die tweede gewildste leier, buiten in die vierde kwartaal van 2018, toe Malema hom net-net met een persentasiepunt geklop het.

Ten tyde van sy bedanking verlede week was Maimane vier persentasiepunte gewilder as Malema.

Dr. Ralph Mathekga, politieke ontleder, sê Malema ervaar toenemend geloofwaardigheidsprobleme en dit het implikasies vir mense se beskouing van hom.

“Die VBS-saak het ’n negatiewe invloed op sy gewildheid. Soos mense toenemend toegang kry tot die media en die verslag oor die VBS (wat die diefstal van R2 miljard van die VBS-bank uiteensit), sal hulle van die EFF verwag om te verduidelik.”

Mathekga sê Maimane is ’n gerespekteerde politikus, “iemand wat sin gemaak het”.

“Die DA is onder druk om ’n plaasvervanger vir hom te vind. Dit wys hoe belangrik hy vir die party was.”

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê Maimane se steun oor die afgelope jaar of twee was telkens hoër as die steun vir die DA, selfs in die periode ná die verkiesing in Mei terwyl sy leierskap onder groot druk was.

“Indien hy wel ’n nuwe politieke party oorweeg, behoort die steunvlakke aan hulle die nodige politieke kapitaal te bied,” sê Venter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.