Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opod ‘konkel met sy statistieke’

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal binnekort ’n interne verslag ontvang oor ’n beweerde gekonkel met sy eie statistieke.

Honderde en dalk selfs duisende ondersoeke teen polisiebeamptes is sedert 2012 moontlik sonder geldige redes gesluit, word in dokumente onthul wat Dinsdag deur Viewfinder, wat in samewerking met die Daily Maverick en GroundUp gestig is, onthul.

In die dokumente kla Opod-ondersoekers dat hulle onder geweldige druk is om “kortpaaie” te vat sodat hulle sake afhandel. Een van die redes hiervoor is glo sodat Opod se statistieke “kon goed lyk op papier”.

Intussen is die families van slagoffers sonder antwoorde gelaat omdat sake voortydig gesluit is, het Viewfinder Dinsdag berig.

Luidens die berig het Opod op 31 Maart 2016 – ’n dag voordat sy statistieke uitgereik moes word – veel meer sake in vergelyking met ander dae afgehandel.

Daar is reeds sedert 2012 bewerings oor ’n gekonkel.

In al drie verslae is beweer dat ondersoekers onder erge druk was om ondersoeke af te handel sonder dat die regte prosedures gevolg is.

Prof. Thuli Madonsela, destyds die openbare beskermer, het toe reeds in ’n brief, wat Netwerk24 gesien het, geskryf haar kantoor het inligting ontvang dat Opod sake voortydig sluit.

Die bewerings word gestaaf deur drie verslae wat in 2014 uitgereik is ná afloop van interne besoeke aan Opod se provinsiale kantore in Gauteng, die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. In al drie verslae is beweer dat ondersoekers onder erge druk was om ondersoeke af te handel sonder dat die regte prosedures gevolg is.

“Polisiebeamptes kom letterlik weg met moord, aanranding en marteling,” het een ondersoeker in die verslag oor KwaZulu-Natal se provinsiale kantoor gesê.

Amar Maharaj, etiese bestuurder by Opod, het glo deur fluitjieblasers bewus geword van die beweerde onreëlmatighede, en het in September 2016 ’n memorandum hieroor aan Madonsela gestuur.

Hy skryf daarin hy het bewus geword van honderde sake in KwaZulu-Natal wat dalk onreëlmatig gesluit is. Hy het ook ’n beëdigde verklaring van ’n fluitjieblaser aangeheg, waarin beweer is senior bestuur by Opod tree onwettig op.

Volgens die fluitjieblaser is ondersoeke onder die term “spesiale sluiting” afgehandel. Sake wat onder dié term gesluit is, het ingesluit korrupsie in die polisie, marteling en aanranding en mense wat in aanhouding dood is, asook ’n verkragting deur ’n polisiebeampte.

In 2016 het Maharaj ook aan Robert McBride, wat ná sy skorsing weer as hoof van Opod aangestel is, geskryf dat 152 sake tussen Julie en April 2016 by die Gautengse kantore onder “spesiale sluiting” afgehandel is.

McBride het in Februarie vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat hy met sy terugkeer na Opod, ná sy skorsing, van die beweerde gekonkel bewus geword het.

“Daar was bewerings dat sekere sake wat deur Opod ondersoek is voortydig afgehandel is sonder dat die regte ondersoekprosesse gevolg is. Dit is in sekere gevalle gedoen om die statistieke goed te laat lyk,” het McBride getuig.

McBride word algemeen beskou as iemand wat in die pad van staatskaping probeer staan het.

Sontaga Seisa, Opod-woordvoerder, sê maatreëls is sedertdien in plek gestel om te keer dat sake onreëlmatig afgehandel word. Hy sê Opod sal in die komende weke ’n nasionale verslag ontvang om meer lig op die kwessie te werp.

“Alle beamptes sal verantwoordbaar gehou word in gevalle waar daar vasgestel kan word dat hulle verkeerd opgetree het,” sê hy.

Luidens Viewfinder is daar tussen April 2012 en Maart vanjaar meer as 42 000 klagte teen die polisie by Opod ingedien.

Slegs 531 hiervan het uitgeloop op skuldigbevindings.

Meer oor:  Opod  |  Statistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.