Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opposisie behaal sege in VS-wetgewer

Opposisielede in die Vrystaatse wetgewer se begroting-en oorsigkomitee het daarin geslaag om met ’n meerderheid van stemme te weier om goedkeuring te gee vir onreëlmatige uitgawes van bykans R570 000 vir die Vrystaat se provinsiale rede van 2018.

Die drie lede van onderskeidelik die DA, Vryheidsfront Plus en die EFF het Dinsdag die septer geswaai toe hulle tydens die stemming in die meerderheid in dié komiteevergadering was.

Daar was wel ook drie ANC-lede teenwoordig, maar een kon as voorsitter van die komitee slegs stem indien die uitslag gelykop was.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die wetgewer, sê Afridome in Parys, waar Ace Magashule, voormalige premier en huidige sekretaris-generaal van die ANC, in 2018 sy provinsiale rede gehou het, het ná verskeie versoeke nie ’n belastingsertifikaat verskaf nie.

“Dit beteken die geld wat hulle gekry het is onreëlmatig, want jy kan nie vir iemand van die regering af geld gee as hulle nie ’n belastingsertifikaat toon nie,” sê Jankielsohn.

“Dit kos ons miljoene rande om die premier se staatsrede in Parys of buite die raadsaal te hou. So ek kondoneer nie eers die gewone besteding nie. Daar is nie ’n manier dat ek die onreëlmatige besteding gaan ondersteun nie.”

“Selfs die regerende party sien dat die regerende party nie goed doen nie”

Jonas Ramokhoase (ANC), voorsitter van die komitee waarin vyf ANC-lede dien, sê een ANC-lid moes die vergadering verlaat voordat die item waaroor die stemming gehandel het, bespreek is. Nog ’n ANC-lid was afwesig.

Hy sê die gesprek voor die stemming waarin ANC-lede gesê het hulle keur nie die onreëlmatige besteding goed nie, was nie die uitkoms van die vergadering nie.

“Die stemming is die uitkoms.

“ANC-lede sou vir kondonering gestem het, maar die probleem was dat hulle nie die getalle gehad het nie,” sê Ramokhoase.

Kgotso Morapela, EFF-lid van die komitee, was nie vir kommentaar bereikbaar nie.

Hy sê die wetgewer het nie geld vir sulke duur byeenkomste nie.

Jankielsohn sê verantwoording sal volg en die moontlikheid bestaan dat die betrokkenes die geld uit hul eie sak sal moet terugbetaal.

“Vanjaar het die begrotingskomitee gesê ons moet die openingsrede in die raadsaal (Vierde Raadsaal in Bloemfontein) hê, want dit kos ons niks.”

Volgens Jankielsohn het Mamiki Qabathe, speaker, dié besluit van die begrotingskomitee geïgnoreer en saam met premier Sisi Ntombela besluit die provinsiale rede sal op die Universiteit van die Vrystaat se Vista-kampus in Bloemfontein gehou word.

Die opposisiepartye het 2018 se provinsiale rede geboikot.

Tammy Wessels, Vryheidsfront Plus-lid van die wetgewer, sê die opposisie kon nie die openingsrede van 2018 wat die Vrystaat en sy belastingbetalers “dermiljoene rande” gekos het, goedkeur nie.

“Die samewerking tussen die opposisiepartye is ’n uitstekende stap vir die Vrystaat, sy wetgewer en opposisiepolitiek. Dit wys as opposisiepartye saamstaan en ons saamwerk vir die groter prentjie van die Vrystaat, kan ons sukses bereik,” sê Wessels.

Wessels sê die ANC-lede in die komitee het met die beginsel saamgestem dat dit onreëlmatige besteding is wat nie goedgekeur behoort te word nie, maar toe die lede aangemoedig om steeds goedkeuring daarvoor te gee. Dit is positief vir die Vrystaat dat die ANC-lede voor die stemming met die opposisie saamgestem het, sê sy.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Dr. Roy Jankielsohn  |  Vryheidsfront Plus  |  Eff  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.