Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opposisie in Zim boos ná Mbeki se uitlatings

Oudpres. Thabo Mbeki het hom die argwaan van Zimbabwe se opposisiepartye op die hals gehaal nadat hy verlede week in ’n onderhoud met Power FM gesê het Brittanje se kritiek op Suid-Afrika vir sy “stille diplomasie”-standpunt teenoor Zimbabwe was nie tot voordeel van dié Afrikaland en sy mense nie, maar eerder om sy eie burgers tot voordeel te strek.

Maar Gift Nyandoro, sekretaris-generaal van die National People’s Party (NPP), sê Mbeki is die hoofargitek van die politieke ooreenkoms wat hy gesmee het om die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, aan bewind te hou sodat Suid-Afrika voordeel kan trek uit sy buurland se mensekapitaal en sakegeleenthede.

Mbeki is ná die betwiste verkiesing in Zimbabwe in 2008 deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) aangewys om ’n politieke ooreenkoms te bemiddel wat gelei het tot die totstandkoming van ’n eenheidsregering tussen Mugabe en die voormalige premier en opposisieleier, Morgan Tsvangirai, in 2009.

Mbeki hou vol dat Suid-Afrika se standpunt van diplomasie daarop gemik was om Zimbabwe toe te laat om sy eie probleme op te los. 

Die wit kommersiële boere wat op ’n tyd die broodmandjie van Zimbabwe was, het padgegee na waar hul kundigheid wonders vir Suid-Afrika en Zambië doen
Gift Nyandoro, NPP

Nyandoro sê Brittanje het niks te make met die korrupsie en nepotisme waarin Mugabe se Zanu-PF spesialiseer nie.

“Die wit kommersiële boere wat op ’n tyd die broodmandjie van Zimbabwe was, het padgegee na waar hul kundigheid wonders vir Suid-Afrika en Zambië doen,” sê hy.

Volgens hom dui Mbeki se uitsprake “op die bankrotskap van Afrikastaatsmanskap en op leiers wat nie die moed het om ’n mede-Afrikaleier die waarheid te vertel nie”.

“Mnr. Mbeki wou Mugabe nie kritiseer nie. Enige verantwoordelike inwoner van Afrika behoort aan leiers te kan sê as hulle verkeerd is, pleks daarvan om weg te skram van die werklike probleme.”

Memory Kadau, politieke ontleder en direkteur in die Zimbabwe-koalisie, sê dit is jammer dat Mbeki nie wil erken dat daar ’n diktator in beheer is in Zimbabwe nie.

Thabo Mbeki

“Pres. Mbeki is 'n goeie staatsman en sy liefde vir Afrika en sy mense is onbetwis, maar wat Zimbabwe betref, is hy verkeerd.

“Sy Globale Politieke Ooreenkoms (GPA) in 2009 het net Zimbabwe se probleme tydelik opgelos. Sy beleid van ‘stille diplomasie’ is deels die oorsaak van die voortgesette krisis in Zimbabwe wat lankal opgelos kon gewees het.

“Die Zimbabwiese kwessie is nie net ’n Britse belangekwessie nie. Dit is ’n nasionale krisis wat streeks- en internasionale oplossings vereis. Zimbabwiërs vra voortdurend wie se belange Mbeki beskerm.”

Die duisende mense wat ná die presidensiële verkiesing in 2008 gesterf het en die miljoene vlugtelinge op Suid-Afrika se drempel, dui op ’n dreigende ramp.

“Die welvaart en aspirasies van Zimbabwiërs is veel belangriker as dié van die politieke elite.”

Die Britse ambassadeur in Zimbabwe, Catriona Laing, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Mbeki  |  Uitlatings  |  Opposisie  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.