Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nie plek vir opposisie-LP’s in kleiner kabinet

’n Verkleinde kabinet wat meer stroombelyn is, sal die kanse vir pres. Cyril Ramaphosa om ’n LP van die opposisie by sy kabinet in te sluit beperk.

Ramaphosa sal Woensdag op die eerste sitting van die Nasionale Vergadering deur die ANC se 230 LP’s tot staatshoof verkies word en drie dae later – op 25 Mei – op Loftus Versfeld as staatspresident ingehuldig word.

Die verwagting is dat Ramaphosa ’n dag of twee later sy nuwe kabinet in die Uniegebou sal aankondig. Alles dui daarop dat die kabinet aansienlik verklein gaan word.

Die vraag is egter of Ramaphosa soos oudpress. Nelson Mandela en Thabo Mbeki lede van die opposisiepartye sal nooi om deel van sy kabinet te wees.

Mandela het in 1994 in sy regering van nasionale eenheid lede van ander partye in sy kabinet ingesluit. Oudpres. FW de Klerk, NP-leier, was saam met Mbeki een van twee adjunkpresidente. Ander NP-lede in Mandela se kabinet het die ontslape Derek Keys, wyle Pik Botha, Renier Schoeman, Dawie de Villiers en Roelf Meyer ingesluit, terwyl Chris Fismer en Shiela Camerer adjunkministers was.

Ook drie IVP-lede, onder wie dr. Mangosothu Buthelezi, IVP-leier, Ben Ngubane en Ben Skosana, was deel van Mandela se kabinet.

Mbeki het op die tradisie voortgebou deur die drie IVP-lede in sy eerste kabinet te behou, terwyl hy dr. Mosibudi Mangena, voormalige Azapo-leier, by sy tweede kabinet ingesluit het.

Oudpres. Jacob Zuma het die tradisie verbreek en die ministeriële poste uitsluitlik tot ANC-lede beperk. Hy het egter adjunkministersposte vir ander partye aangebied, wat deur onder andere dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, en Zanele kaMagwaza-Msibi, NFP-leier, aanvaar is.

Prof. Somadoda Fikeni, politieke ontleder aan Unisa, het by navraag gesê die kanse is skraal dat Ramaphosa in dié verband ’n uitnodiging tot die opposisie gaan rig.

“’n Verkleinde kabinet wat meer stroombelyn is, beteken dat jy moeilike besluite teen jou eie kamerade moet neem. Hy sal verskeie faktore in berekening moet bring waaronder geslags-, jeug-, streek- en rasseverteenwoordiging, en natuurlik diegene in verskillende faksies, sowel as die ANC se alliansievennote. Al dié faktore, plus bevoegdheid, sal deel van die permutasies moet uitmaak. Hy kan dalk met opposisiepartye oor ontplooiing na rade en as diplomate praat,” het Fikeni gesê.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het daarop gewys dat Ramaphosa ingevolge die Grondwet twee aanstellings van buite in die kabinet kan maak en die kanse is goed daarvoor.

“Interessante opsies wat hy ook kan oorweeg, is mense soos dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, of Bantu Holomisa, UDM-leier. Albei is baie sterk leiers met wye parlementêre ondervinding. Hulle kan dus net op grond van hul ervaring ’n groot bydrae lewer.

“Ek dink dit is hoogs onwaarskynlik dat hy Julius Malema, EFF-leier, sal uitnooi, omdat sy onlangse uitsprake nie bevorderlik vir goeie buurmanskap is nie. As Ramaphosa iemand uit die opposisie aanstel, sal dit ’n politieke party wees wat pragmaties in sy optrede is.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.