Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opposisie sal reddingsboei aan SAL ‘hewig betwis’

Enige reddingsboei van miljarde rande aan die finansieel sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is slegs ’n uitgemaakte saak as die parlement dit goedkeur.

En dít sal hewig deur opposisiepartye in die nasionale wetgewer betwis word.

'n Passasier stap verby die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se toonbank in die Heathrow-lughawe by Londen.

Alf Lees, die DA se adjunk-woordvoerder oor finansies, het Donderdag só gesê nadat hy ten tyde van adj.pres. Cyril Ramaphosa se mondelinge vrae-en-antwoord-sessie Woensdag in die Nasionale Vergadering nóg ’n moontlike reddingsboei aan die SAL onthul het.

Luidens ’n geheime kabinetsdokument wat Lees bekom het, beplan Malusi Gigaba, minister van finansies, glo om die jongste reddingsboei vir die verliesmakende SAL te finansier deur die regering se winsgewende aandele in Telkom te verkoop.

HuffPostSA het Donderdag ook onthul dat Gigaba die verkoop van die Telkom-aandele sonder enige beraadslaging of ’n maatskaplik-ekonomiese impakstudie oorweeg.

Intussen het Fin24 Donderdagmiddag berig hoe Gigaba in ’n vertroulike memorandum wat Woensdag op ’n buitengewone kabinetsvergadering versprei is, aangevoer het dat die herkapitalisasie van die SAL net die lugdiens se klein kontantreserweprobleem tydelik sal oplos.

Gigaba voer verder in die memorandum aan dat tensy die lugdiens sy sakemodel verfyn om inisiatiewe in sy regrukplan in te sluit, dit sal aanhou om klein kontantreserwes te hê.

Fin24 het ook berig hoe staatswaarborge aan die SAL toegeneem het van R1,3 miljard in 2007-’08 tot R19,1 miljard teen September verlede jaar.

Die SAL is tans onder die voorsitterskap van Dudu Myeni, wat noue bande met pres. Jacob Zuma het.

Lees het Donderdag gesê enige plan om ’n verdere R10 miljard aan die SAL toe te staan, moet eers in die parlement ter tafel gelê word waar dit gedebatteer sal word.

“En daar sal aansienlike weerstand van die DA en moontlik ook ander opposisiepartye wees.”

Volgens Lees kan die ANC self ook nie bekostig om die enorme openbare kritiek teen so ’n reddingsboei te ignoreer nie.

Malusi GigabaFoto: DAILY SUN

“Die geskiedenis het ons egter geleer dat die ANC dikwels Suid-Afrikaners se openbare ontevredenheid ignoreer en erg daarvoor by die stembusse gestraf word.

“Die doel van ons onthulling Woensdag was om aan Suid-Afrika te wys wat agter geslote deure beplan word. Ons glo dat die SAL eerder geprivatiseer moet word, maar die minister het reeds in die parlement aangedui dat hy teen privatisering van die SAL gekant is.”

Lees het bygevoeg dat die stryd oor nóg ’n reddingspakket aan die SAL daarom ’n tawwe een in die parlement sal wees.

“Ons is egter slaggereed daarvoor. Ons meen dat die geld wat nou op die SAL gemors sal word as die reddingsboei realiseer, eerder gebruik kan word vir diensleweringsprogramme en om die ekonomiese groei aan te wakker.

“Eerder dit, in plaas van op die SAL wat vanjaar maar weer op ’n verlies van R5 miljard afstuur. Dit ly in hierdie stadium reeds maandeliks verliese van tot R350 miljoen.

“Dit beteken dat daar ná die beplande reddingsboei nog een uitgegooi sal moet word.”

Volgens Lees sal die situasie net verander as “die wyse waarop die SAL bestuur word, drasties verander. As dit nie gebeur nie, sal jy dit nie kan regruk nie.”

Meer oor:  Sal  |  Malusi Gigaba  |  Reddingsboei  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.