Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opposisie verwelkom W-Kaapse LUR se skorsing
Bonginkosi Madikizela Foto: Malherbe Nienaber

Opposisiepartye in die Wes-Kaap het die skorsing van Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en openbare werke, ná aantygings oor sy kwalifikasies verwelkom.

Alan Winde, premier, het Donderdag bekend gemaak dat Madikizela onmiddellik vir 14 dae geskors word terwyl die feite in ’n ondersoek vasgestel word.

“Sodra ek al die feite het, sal ek ’n finale besluit neem oor Madikizela en sy rol in my kabinet,” het Winde Donderdagoggend in ’n verklaring gesê.

“Dit is in die belang van alle partye, en veral ons inwoners – wat niks anders as eerlikheid en integriteit van hul regering verdien nie – dat dié saak vinnig opgelos word.”

Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings, sal intussen as LUR vir vervoer en openbare werke waarneem.

Nadat hy Woensdag met Madikizela vergader het, het Winde gesê hy is diep bekommerd dat die LUR se “biografie inligting bevat wat hy aanvaar het nie waar is nie”, sowel as aantygings dat hy ’n joernalis in dié verband mislei het.

Op die vergadering is dié kommer teenoor Madikizela gelug en hy is gevra om te verduidelik, luidens Winde se verklaring.

“Ek het dit duidelik gemaak dat om met integriteit op te tree nie vir my en die mense van die Wes-Kaap onderhandelbaar is nie.”

Winde het egter ook benadruk dat hy glo aan regverdigheid en dat die regte prosesse gevolg word, “waarin al die feite behoorlik oorweeg word”.

Madikizela se woordvoerder het Woensdag gesê hy het aangedui dat hy sy volle samewerking in enige ondersoek sal gee.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Woensdag bekend gemaak dat die party die aantygings ondersoek dat Madikizela ’n wanvoorstelling oor sy kwalifikasies gemaak het.

Hy het sedert 2009 as LUR gedien, aanvanklik toe Zille premier was en tans onder Winde se termyn.

Madikizela (46) is ook die DA-leier in die Wes-Kaap en een van die prominente partylede wat aangedui het dat hy as burgemeesterskandidaat vir Kaapstad wil staan.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer. Foto: Malherbe Nienaber

Volgens sy biografie op die provinsiale regering se webwerf het hy ’n BCom-graad in menslikehulpbronnebestuur, asook ’n sertifikaat in inligtingstegnologie (IT).

Joernaliste van Daily Maverick het vandeesweek berig dat hulle nie sy graad kon bevestig kry of ’n CV van Madikizela in die hande kon kry nie.

Hy het eers gesê dat hy aan Unisa studeer het, maar later erken dat hy nie die graadkursus voltooi het nie en dat dit verkeerdelik so aangedui word.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, het Donderdag in ’n verklaring die skorsing verwelkom, maar nie saamgestem dat dit net vir 14 dae moet wees nie.

Dit is omdat die ANC die gedragskomitee in die wetgewer gevra het om ’n ondersoek na Madikizela in te stel. Die skorsing behoort eers opgehef te word nadat dié bevindings bekend is, sê Dugmore.

“Ons kan nie die DA of die premier vertrou om ondersoek na Madikizela in te stel nie. Ons het reeds die blatante dubbele standaarde gesien waarmee Zille se twiets oor kolonialisme ongestraf gelaat is.”

Dugmore sê daar is ook bespiegeling oor of die tydsberekening van die herrie oor Madikizela se kwalifikasies deel van die DA se interne struwelinge oor voornemende burgemeesterskandidate is.

Die “buitengewoon vinnige” skorsing van Madikizela kan volgens die bespiegelings deel van dié stryd wees, volgens Dugmore.

Hy het ’n beroep gedoen dat die gedragskomitee die kwessie gou ondersoek. “Slegs dan kan oorweeg word of sy skorsing opgehef moet word of nie.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good. Foto: Malherbe Nienaber

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, sê dit is onaanvaarbaar dat Madikizela eers net geskors word “om sy kant van die saak aan te hoor” en bedrieglike aansprake oor ’n graad te ondersoek.

Hy het geëis dat Madikizela uit sy amp verwyder word omdat “hy reeds openlik erken het dat hy oor sy kwalifikasies gelieg het”.

Volgens Herron is daar dus niks om te ondersoek nie. Ingevolge wetgewing is dit ’n strafregtelike oortreding om op bedrieglike wyse voor te gee om oor ’n kwalifikasie te beskik.

“Dit is nie ’n beuselagtige kwessie waarom die DA suutjies kan trap en wat die party intern kan hanteer nie.”

Herron, ook ’n wetgewer-lid, het beklemtoon dat Madikizela in die uitvoerende gesag dien, met ’n sterker verpligting om eerlik en met integriteit op te tree.

Good sal intussen strafregtelike klagte teen Madikizela aanhangig maak, lui Herron se verklaring.

Die Land Party het Donderdag Madikizela se skorsing as ’n “rassistiese besluit” beskryf en dit afgemaak as deel van ’n strategie om hom uit die DA te dryf nadat hy bekend gemaak het dat hy as burgemeesterskandidaat wil staan.

Volgens die Land Party moet “mense wat nie wit is nie, veral Afrikane”, kennis neem daarvan dat die DA nie ’n swart burgemeester vir Kaapstad wil hê nie.

“Sowel bruin as swart mense moet tot hul sinne kom en besef dat die DA slegs vir wit mense is. Die party gebruik net bruin en swart mense en lok hulle met groot salarisse om sy getalle ’n hupstoot te gee.”

Die party het ’n beroep gedoen op kiesers om die DA in die komende plaaslike verkiesing te straf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.