Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opposisie weet nog nie of hulle Zuma gaan boikot

Die meerderheid van die land se opposisiepartye sê hulle het nog nie besluit of hulle volgende week die staatsrede sal boikot as dit deur pres. Jacob Zuma gelewer word nie.

Verteenwoordigers van die EFF, Cope, die IVP, die UDM en die ACDP het die kwessie rondom die omstredenheid met die staatsrede Vrydag op ’n vergadering in Kempton Park bespreek.

Mmusi Maimane, die DA-leier, kon weens verpligtinge in Port Elizabeth nie die vergadering bywoon nie en het om verskoning gevra vir sy afwesigheid, het Bantu Holomisa, die UDM-leier, op ’n mediakonferensie gesê.

Hy het as voorsitter van die vergadering opgetree.

Die opposisiepartye het besluit hulle sal ’n brief aan Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, skryf waarin hulle hul kommer uitspreek oor die feit dat Zuma Donderdagaand die staatsrede lewer.

Die opposisieleiers sê hulle het Dinsdag ’n afspraak met Mbete “om seker te maak sy verstaan hulle wil help om die beeld van Suid-Afrika te herstel”.

Die opposisiepartye sê hulle wil nie na Zuma luister nie omdat hy die land in die grond in bestuur het en hulle hom nie meer vertrou nie.

Intussen word wyd bespiegel dat die ANC se sogenaamde top ses dié naweek indringend met Zuma gaan praat.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Muntu Vilakazi | daily sun

Dié ontmoeting sal moontlik eers Sondagmiddag of -aand kan plaasvind, omdat adj.pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-leier, Saterdag en Sondagoggend in Limpopo is waar hy afsprake met tradisionele leiers het.

Die nasionale werkkomitee van die ANC het die top ses onlangs opdrag gegee om met Zuma te praat oor hoe die oorgangsproses hanteer moet word.

Die ontmoeting kon nie vroeër plaasvind nie – onder meer omdat Zuma verlede week in Addis Abeba, Ethiopië, ’n leiersberaad van die Afrika-Unie bygewoon het, en Ramaphosa ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreld- Ekonomiese Forum se beraad in Davos, Switserland, gelei het.

Ramaphosa het einde verlede jaar op die ANC se 54ste nasionale konferensie en leierskapsverkiesing die leisels as leier van die ANC by Zuma, wat al van 2009 af president is, oorgeneem.

Sy ondersteuners wil hê hy moet dadelik as staatshoof by Zuma oorneem omdat hulle bang is twee sentrums van mag (die een Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor, en die ander die Uniegebou, as die setel van die regering) sal die ANC verswak.

Die EFF se Godrich Gardee het gesê dié opposisieparty wil Zuma nou in sy spore stuit omdat hy nie in die toekoms ’n 'bankrot staat' wil oorneem nie.

Die opposisiepartye sê hulle maak nie bloot ’n groot lawaai oor Zuma net om politieke punte aan te teken nie.

“Ons doen dit ter wille van Suid-Afrika se toekoms. Dit gaan hier oor beginsels,” het Holomisa gesê.

“Die geskiedenis sal eendag wys die opposisiepartye het die regte ding gedoen,” het Mosiuoa Lekota, die Cope-leier, gesê.

Die EFF se Godrich Gardee het gesê dié opposisieparty wil Zuma nou in sy spore stuit omdat hy nie in die toekoms ’n “bankrot staat” wil oorneem nie.

Die opposisiepartye sê die ANC se onvermoë om Zuma te verwyder, wys dié party kan nie vertrou word om die veranderinge teweeg te bring wat die party se nuwe leierskap die afgelope ruk sê hy gaan doen nie.

“As die ANC Zuma toelaat om die staatsrede te lewer, sal dit ’n bewys wees dat die party nie meer geskik is om die land te lei nie,” sê Holomisa.

Meer oor:  Cope  |  Acdp  |  Udm  |  Ivp  |  Eff  |  Mmusi Maimane  |  Pres. Jacob ­Zuma  |  Kempton Park  |  Politiek  |  Boikot  |  Opposisie  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.