Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Opsystaan: 'Hoe langer dit sloer, hoe slegter lyk hulle'

’n Belangrike week breek aan vir die ANC, met al sy lede wat van ernstige misdaad aangekla word wat volgens sommige ontleders reeds ingevolge die veelbesproke ANC-resolusie opsy moes staan.

Die ANC swyg egter oor wanneer presies die sperdatum verstryk wanneer bogenoemde lede binne 30 dae opsy moet staan, soos in Maart aangekondig is, anders word hulle geskors.

Sover bekend het nog nie ’n enkele lid, insluitend die beleërde Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, vrywillig van hul poste afstand gedoen nie.

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, het Vrydag aan News24 gesê die spertyd vir wanneer dit moet gebeur, is buigbaar.

Die ANC se topses-leiers sou na berig word Sondag oor die besluit vergader in aanloop tot die nasionale werkkomitee van die party wat Maandag byeen sal kom om ’n verslag oor die kwessie te bespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule by die ANC se Nasrec-konferensie in 2017. Foto: Deaan Vivier

Die vergadering sal opgevolg word deur ’n spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) van 8 tot 10 Mei.

Intussen het die provinsiale strukture van die ANC glo ook die name ingedien van diegene wat ingevolge die resolusie hul poste moet ontruim.

Magashule, wat die grasietydperk gebruik het om met voormalige ANC-leiers te vergader, het nog geen aanduiding gegee dat hy van plan is om die opsystaan-beleid gelate te aanvaar nie.

Daar is ook sprake dat hy wil appelleer teen die bevinding van die integriteitskomitee van die ANC in Desember dat hy sy pos moet ontruim.

Vergadering goed afgeloop

Dekota Legoete, ANC-woordvoerder, het Saterdag aan Susan Cilliers gesê dat Magashule se vergadering met oudpresidente Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe hartlik was en goed afgeloop het. “Meer besonderhede oor hul ontmoeting is vir eers vertroulik totdat interne prosesse afgehandel is,” het hy gesê.

Magashule staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die omstrede asbesdak-ouditprojek in die Vrystaat van miljoene rande.

Die Fezile Dabi-streek van die ANC in die Vrystaat het openlik sy steun aan Magashule toegesê omdat hulle voel dat hy uitgesonder word.

Twee van sy bondgenote, Carl Niehaus, woordvoerder van Umkhonto we Sizwe se vereniging vir militêre veterane, en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, het intussen glo by ’n kerk in Mathibestad byeengekom.

Niehaus het ’n foto van homself, Mahumapelo en ander mense op Twitter geplaas met die hutsmerk #HandsOffSupraMahumapelo.

Komitee hou vol oor skorsing

Die tussentydse provinsiale komitee van Noordwes hou vol dat Mahumapelo en sy bondgenoot Bitsa Lenkopane geskors is nadat Magashule in ’n brief gesê het dat dié twee wel as lede van die ANC aanbly.

Magashule het ook geskitter in sy afwesigheid by die onlangse getuienis van pres. Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as ANC-president, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Ramaphosa het op die amptelike Vryheidsdagvieringe in die Vrystaat gepraat met ANC-takke in die einste provinsie waar Magashule se magsbasis die sterkste is.

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga sê dit is belaglik dat daar nou uitgewerk moet word of die opsystaan-resolusie van 30 dae byvoorbeeld naweke ook insluit omdat die ANC nie oop kaarte daaroor speel nie.

Hy sê hoe langer dit duur vir die besluit om tot uitvoering gebring te word, hoe slegter is die lig waarin Ramaphosa en die ANC gestel word.

“Die improvisasie en hoe die proses hanteer word, is weer eens net ’n sterk aanwyser van die swak interne prosesse in die ANC, veral onder druk,” het hy gesê.

Prof. Susan Booysen, verbonde aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits) se skool vir regeerkunde, benadruk dat die riglyne baie duidelik is oor die opsystaan-beleid.

“Dit gaan nie hier soseer oor die tegniese aspekte as wat dit oor die politieke oorwegings gaan nie,” het sy gesê.

Volgens Booysen is dit ook ’n ope vraag wat op die ANC se spesiale NUK-vergadering gaan gebeur, hoewel die vroeëre besluit oor die opsystaan-resolusie waarskynlik gekonsolideer kan word.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Opsystaan  |  Anc  |  Anc-Lede  |  Sperdatum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.