Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Optoggangers in Bloem eis Olly se kop, beter dienste

’n Diensleweringsoptog is Donderdag in Bloemfontein gehou waarin onder meer die kop van Olly Mlamleli, burgemeester, geëis is.

Betogers wat na die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) gestap het om hul griefskrif aan die Mangaung-metro te oorhandig, het ook werkgeleenthede vir jongmense geëis.

Zwandile Phupha, nasionale president van die National Unemployed Voters Organisation (Nuvo), een van die organisasies onder wie se vaandel die opmars plaasgevind het, is veral bekommerd oor die gebrek aan werkgeleenthede vir jongmense.

Die mense se opmars van die Batho-gemeenskapsaal na die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) in Bloemfontein is deur duisende mense ondersteun. Foto: Marietjie Gericke

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder (middel) van die Mangaung-metro ontvang hier die griefskrif van Zwandile Phupha, president van die National Unemployed Voters Organisation (Nuvo), links, en van Mncedisi Bokwa, sameroeper van die opmars en van die Jong Kommunisteliga.Foto: Marietjie Gericke

Hy het gesê dit is die laaste keer dat ’n griefskrif aan die metro afgelewer word.

“Volgende keer kom ons om die Glaspaleis te sluit.”

Die mense se opmars in Bloemfontein waar gevra is vir die val van Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester en dat korrupte tenders nie moet gaan na die mense in Qwaqwa nie. Voor is Mncedisi Bokwa van die Jong Kommunisteliga en sameroeper van die opmars. Foto: Marietjie Gericke

Afskrifte van die griefskrif sou ook aan Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en Oupa Khoabane, hoof van die departement samewerkende regering en tradisionele sake, gegee word.

Thuso Bokwa van die Jong Kommunisteparty, sameroeper van die optog, het gesê derduisende jongmense van die metro-gebied sit sonder werk, terwyl die metro net werk gee vir “girl- en boyfriends” van bestuurders en ANC-kaders met “vriende in hoë plekke”.

Gayton McKenzie, president van die Patriotic Alliance (PA) en eienaar van diamantmyne in Suid-Afrika, en sy partygenote wat ook deel van die mense se opmars was. McKenzie is die party se premierskandidaat vir die 2019-verkiesing.Foto: Marietjie Gericke

“Tenders waarmee werk geskep behoort te word, gaan na ander provinsies soos Gauteng en Limpopo. Die inwoners van die Vrystaat en die metro word versaak.”

Hy sê munisipale dienste word nie in die townships gelewer nie. Halfvoltooide projekte in die townships in en rondom Bloemfontein moet onmiddellik voltooi word.

“Die uitwissing van die emmerstelsel, wat na 24 jaar van ANC-bewind nog nie stopgesit is nie, moet dringend aandag kry.”

Die mense se opmars van die Batho-gemeenskapsaal na die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) in Bloemfontein is deur duisende mense ondersteun. Foto: Marietjie Gericke

“Ons wil weet wat met die ‘wit olifant’ van ’n Bloemfonteinse taxi-terminus gaan gebeur – ’n baie omstrede gebou wat sewe jaar nadat dit gebou is, steeds nie gebruik word nie. Meer as R400 miljoen van belastingbetalersgeld is hierop bestee en dit moes werkgeleenthede geskep het. Dieselfde geld die omstrede Ramkraal-projek waarop daar al meer as ’n R100 miljoen bestee is, sonder dat ’n baksteen gelê is.”

Bokwa sê in sy griefskrif wat aan adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, oorhandig is, aan die kern van die optog lê groot kommer oor die agteruitgang in Mangaung.

Die optog is gereël omdat daar nie meer doeltreffende dienste soos skoon water, skoon en veilige strate, ontwikkeling van paaie en infrastruktuur is nie.

“Die swart gemeenskappe van Mangaung kry nie aandag nie. Die Mangaung-metro gaan agteruit weens korrupsie en parasitiese patronaat-netwerke.”

Optoggangers het ook kapsie gemaak teen die hoë salarisse van bestuurslui sonder vaardighede en oortollige burokrate in die metro wat veroorsaak dat die munisipaliteit geplunder word.

Meer oor:  Olly Mlamleli  |  Mangaung-Metro  |  Bloemfontein  |  Optog  |  Werkloosheid  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.