Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Orania wil groei tot stad
’n Onlangse lugfoto van Orania. Foto: Reint Dykema

Orania gaan tot ’n stad ontwikkel word, het dr. Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, Dinsdag in Pretoria aangekondig.

“Ons moet ons mense se belange konsentreer deur, ondubbelsinnig gestel, stadsbou in en om Orania,” het hy op Orania se stadskonferensie by die Voortrekkermonument gesê.

Volgens hom moet Afrikaners se belange gekonsentreer word om veiligheid en voorspoed te verseker en om nie altyd en oral ’n protesterende minderheid te wees nie. Selfs die bestaansrisiko van diegene wat nie deel van so ’n konsentrasie uitmaak nie, kan in die proses verminder word.

As die punt van stadsbou bereik word, “sal ons weer toekomsgereed wees om ons rol op die groter verhoog op ’n volhoubare grondslag te kan speel. Tot dan sal ons mense soos ’n voël op ’n tak sit wat nie weet wanneer hulle verdryf word nie. Daarom is ek van oordeel dat die tyd aangebreek het vir breër eienaarskap van die Orania-gedagte”.

Volgens Boshoff het Suid-Afrika as ’n struktuur sowat 100 jaar gelede belofte getoon en dit het ongekende ontwikkeling opgelewer, maar die toepaslikheid daarvan lê vandag aan skerwe. Indien die land wel nog ’n tuiste vir al sy mense kan bied, sal “selfstandige gemeenskappe die wegwyser daarheen moet wees”.

By dieselfde geleentheid het prof. Koos Malan van die departement publieke reg aan die Universiteit van Pretoria gesê ’n outonome Afrikanerstad of -stede is noodsaaklik as waarborg vir die blywende fisieke, ekonomiese, kulturele en politieke heil van die Afrikaner. Hulle is tans in ’n gevorderde fase van die verlies van huidige stedelike basisse en daarmee gepaardgaande opvoedkundige instellings.

Volgens hom maak die Afrikanerstad hom nie los van Suid-Afrika nie en dit gaan nie oor afskeiding nie. Dit is ’n outonome tuiste vir Afrikaners in Suid-Afrika.

“Dit is vir alle Afrikaners. Dis nie vir regses, linkses, goeies, slegtes, dapperes, lafaards, presteerders of wanpresteerders, slimmes of dommes, smalwegwandelaars of afvalliges, vromes of sondaars nie. Dit is vir ons almal,” sê Malan.

Meer oor:  Orania
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.