SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ou-nuwe’ ministeriële handboek wéér hersien

Vir die eerste keer sedert 2007 is ’n nuwe ministeriële handboek op 8 Junie deur die kabinet aanvaar.

Nou, skaars vyf weke later, word dit wéér hersien nadat die opposisie gevra het waarom die belastingbetaler onder meer vir ministers, hul adjunkte, premiers en LUR’e se DStv en uitspattige sekuriteitstoerusting by hul wonings moet betaal.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het Donderdag in sy begrotingstoespraak aangekondig dat pres. Cyrl Ramaphosa ’n interministeriële komitee aangestel het wat binne twee maande spesifieke kwelpunte in die handboek moet verander.

Tito Mboweni, minister van finansies, en Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, sal Mchunu bystaan.

Volgens Mchunu sal hulle spesifiek fokus op die aankoop van voertuie, die gebruik van private voertuie en sekuriteitsverbeterings by woonhuise.

R17 m. vir vlugte vir oudministers en hul gades.

De Lille het by navraag gesê sy het nog nie haar volle mandaat omtrent die hersiening ontvang nie en kan dus nie sê of die hersiening tot sekere dele van die handboek beperk sal wees nie.

Anders as wat gehoop is, het die nuwe handboek toe nie die besteding aan voertuie beperk nie, wat net soos in die vorige weergawe beperk was tot 70% van ’n minister se jaarlikse salaris – sowat R1,6 miljoen.

Die plafon vir besteding aan sekuriteit by amptenare se wonings is boonop met R150 000 tot R250 000 verhoog.

Amptenare se tolgeld word ook gedek en hulle word vergoed vir die gebruik van hul eie motors.

Mboweni is die afgelope week deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) oor die kole gehaal omdat hy onlangs daarop aangedring het dat Gauteng se omstrede e-tolprojek moet voortgaan, al betaal Mboweni nie sy eie tolgeld nie.

Die nuwe handboek laat ook toe dat die staat elke jaar meer as R17 miljoen aan vlugte vir oudministers en hul adjunkte opdok.

Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, het gesê die party beskou die hersiening van die nuwe handboek as ’n oorwinning vir die DA, wat geëis het dat Mchunu die handboek hersien.

Mchunu het in sy begrotingstoespraak na die nuwe handboek as ’n “ou-nuwe” handboek verwys.

Schreiber sê dit is ’n openbare erkenning dat “niks verander het nie en dat die verkwistende besteding aan luukshede sal aanhou”.

Schreiber hoop om Woensdag, wanneer die portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasies weer vergader, sy medekomiteelede te oortuig dat die nuwe handboek moet lyk soos die provinsiale handboek in die DA-beheerde Wes-Kaap, wat in 2011 aanvaar is.

In dié provinsie is amptenare op slegs een voertuig geregtig wat niks meer kos as 40% van hul salaris nie. Ook vyfsterverblyf is taboe.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Patricia De Lille  |  Senzo Mchunu  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.