Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Oudamptenaar van SAID kap terug na OB

Die vuiste klap al weer oor Jan Taks se sogenaamde “rogue”-eenheid.

In die jongste drama het Johann van Loggerenberg, voormalige bestuurder by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat self beskuldig word van spioenasie, teruggekap na die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Van Loggerenberg en twee ander voormalige senior amptenare, Ivan Pillay en Andries Janse van Rensburg, word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by ’n spioenasie-operasie van die “rogue”-eenheid binne die SAID.

Johann van Loggerenberg.

Van Loggerenberg het Saterdag in ’n verklaring gesê hy wil die verslag oor dié eenheid deur die hof laat hersien en tersyde stel.

Sy reaksie volg op Mkhwebane se aankondiging Vrydag dat Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, ’n verwerkte weergawe van die inspekteur-generaal van intelligensie se verslag aan haar oorhanding het, wat bevind het die “rogue”-eenheid was onwettig.

“In ’n skikking wat ingevolge reël 43 van die Uniforme Reëls van die hof bereik is, het minister Dlodlo Maandag, 4 November 2019, ’n verwerkte weergawe van die verslag aan Mkhwebane gebied,” het die kantoor van die OB Vrydag in ’n verklaring gesê.

Mkhwebane het haar bedank nadat sy “oplaas” die verslag oorhandig het.

Van Loggerenberg sê in sy verklaring hy het die verwerkte weergawe onder oë gehad sedert dit aan die OB en ander partye beskikbaar gestel is. “Dit is niks anders nie as ’n samevoeging van leuens, misleidende inligting, bedrieglike eise en ’n volledige verduistering van bewyse en feite wat mense impliseer wat verband hou met die Staatsveiligheidsagentskap, sy eenheid vir spesiale bedrywighede en ander takke, asook ander staatsintelligensie-agente en private entiteite en mense verbonde aan die ‘Dienste’.”

Hy sê die verslag roem hom daarop dat hy “bevindings” en “aanbevelings” aan die SAID bied, wat volgens hom in kwade trou en buite sy mag gedoen word.

“Ek het ’n beëdigde verklaring afgelê, volledig met bewysmateriaal, om die inhoud daarvan te betwis. Nie een van die partye wat by die litigasie betrokke was, het my getuienis probeer weerlê of betwis nie. In werklikheid het alle opponerende partye my getuienis aanvaar en selfs van die dele gebruik tydens hul betoog.”

Hy voer verder aan dat die verslag geensins getuienis bevat wat deur hom in 2014 by die inspekteur-generaal van intelligensie op 25 Augustus, 15 September en 29 September geregistreer is nie.

Na Van Loggerenberg se mening maak die verslag staat op ongegronde hoorsê en vae, vals en lasterlike bewerings van die einste mense wat hy namens die SAID geïmpliseer het.

“Ek ontken elke enkele nadelige aantyging wat daarin bevat is. Ek sou voorstel dat niemand dit ernstig moet opneem vir enige doel, of dit verwerk is al dan nie,” sê Van Loggerenberg in sy verklaring.

Die EFF het vroeër Dlodlo se voorstel om die geklassifiseerde verslag openbaar te maak, teengestaan.

Daarna het die party die dokument aan die media gelek en dit op hul webtuiste gepubliseer.

Die EFF het gemeen om die verslag geheim te hou was ’n misbruik van geregtelike hulpbronne.

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Tebogo Letsie, City Press

News24 het voorheen berig die verslag was grootliks gegrond op inligting van Staatsveiligheidsagentskap-agente wat betrokke is by die diskreditering van SAID-amptenare.

Mkhwebane het haar steun agter die EFF gegooi en gesê die verslag steun haar bevindings dat die intelligensie-eenheid onwettig opgetree het.

Vroeër is berig dat Mkhwebane egter uiters belangrike bewyse geïgnoreer het toe sy die bevinding gemaak het. Sy is daarvan beskuldig dat sy en haar ondersoekspan nie redelike stappe gedoen het om die relevante bewyse te kry nie, wat groot gapings in hul kennis van sake by die SAID gelaat het. Sy is ook gekap oor sy glo selektief sekere dele van bewyse gebruik en geïgnoreer het om haar bevindings te steun.

Mkhwebane het in Oktober ’n beëdigde verklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien, waarin sy aanvoer Dlodlo, wat sy as die “applikant” aanspreek, beloof het om aan haar ’n niegeklassifiseerde afskrif van die verslag te gee as deel van haar afsonderlike ondersoek na die “rogue”-eenheid, maar het “versuim om dit te lewer”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.