Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Oudminister net soos Ace uit ANC-vergadering gegooi
Adv. Bongani Bongo. Foto: Gallo Images

Adv. Bongani Bongo, ’n voormalige minister van staatsveiligheid, is Saterdag ook uit die aanlyn vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) geskop, het die SAUK Saterdagmiddag berig.

Dit volg nadat Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, ook die vergadering moes verlaat.

Bongo, nou ’n senior ANC-LP en ’n ondersteuner van Magashule, word van korrupsie aangekla.

Die NUK het vroeër besluit alle ANC-ampsdraers wat strafregtelik aangekla word, moet binne 30 dae opsy staan.

Vroeër Saterdag is berig daar is langer as ’n uur lank oor Bongo se teenwoordigheid op die NUK-vergadering gedebatteer. Daar is ook omtrent ’n uur lank woorde gewissel oor die teenwoordigheid van Magashule.

Ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, was heftig gekant teen sy teenwoordigheid, het Magashule later in onderhoude gesê.

Bongo het vandeesweek gesê hy sal appèl aanteken teen die NUK se opdrag dat hy moet terugstaan.

Hy sê hy is vol vertroue dat hy ’n hangende saak teen hom in die hooggeregshof in Mpumalanga sal wen. Hy meen die staat het geen saak teen hom nie.

Bongo is in Februarie vanjaar in die hooggeregshof in Kaapstad onskuldig bevind op aanklagte van korrupsie nadat beweer is dat hy ’n getuienisleier in ’n parlementêre ondersoek na Eskom wou omkoop.

Adv. Bongani Bongo tydens 'n vroeëre verskyning in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Regter John Hlophe, regter-president van die hooggeregshof in Kaapstad, wat onlangs deur ’n geregtelike tribunaal skuldig bevind is aan growwe wangedrag, was die regter in dié saak.

Bongo het ná die uitspraak in dié saak gesê hy gaan die staat dagvaar vir kwaadwillige vervolging. “Die staat moet eerder fokus op regte misdadigers.”

Die nasionale vervolgingsgesag het aansoek gedoen om verlof tot appèl.

Hoewel ondersteuners van Magashule Saterdagmiddag laat gesê het Magashule oorweeg ’n hofinterdik, het Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre veteranevereniging en groot bondgenoot van Magashule, gesê Magashule sou verkies om eerder nie die hof te nader oor sy skorsing nie.

“Die sekretaris-generaal sluit egter nie die moontlikheid daarvan uit nie,” het Niehaus gesê.

Niehaus sê die NUK het Saterdagoggend Magashule se appèl teen sy skorsing aanvaar en erken.

“Daar is dus geen dispuut meer oor sy appèl nie. Die enigste dispuut nou is of die tydelike skorsing nog geldig is of nie,” sê Niehaus.

In ’n opname wat uit die vergadering gelek is, sê Dakota Legoete, ’n NUK-lid, daar moet ook opgetree word teen ander lede teen wie daar ernstige aantygings is.

"Ek doen 'n beroep op die president (Ramaphosa) om assblief die president van die ANC te wees en nie net die president van 'n faksie nie," het Legoete in die opname gesê.

Die NUK se besluit is dat ANC-lede teen wie daar ernstige aantygings is, hul saak voor die party se integriteitskommissie moet gaan stel.

Dié sal dan aanbeveel of hulle geskors moet word of nie.

Legoete sê die interne gevegte in die party het daartoe gelei dat die ANC nie sy werk behoorlik doen nie.

Hy het voorgestel ’n spesiale nasionale konferensie moet gehou word.

Bheki Ntshalintshali

Bheki Ntshalintshali, sekretaris-generaal van Cosatu, het by navraag gesê die vakbond gaan nie nou kommentaar lewer op die ANC se probleme nie.

“Die party moet sy eie probleme uitsorteer. Ons fokus is om probleme rondom die werksmag op te los, nie die ANC nie,” het hy gesê.

Sizwe Pamla, ’n nasionale woordvoerder van Cosatu, het gesê Cosatu ondersteun die ANC se opsystaan-beleid.

• ’n Mediakonferensie word Sondagmiddag in Durban gehou waar ANC-takke in die eThekwini-streek planne bekend sal maak oor hoe Magashule en oudpres. Jacob Zuma ondersteun gaan word.

Die takke sal ook die opsystaan-kwessie bespreek.

Meer oor:  Bongani Bongo  |  Nuk  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.