Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Oudminister: Zuma het onder eed gelieg voor Zondo

Adv. Ngoako Ramatlhodi, oudminister, sê oudpres. Jacob Zuma het onder eed gelieg toe hy voor die Zondo-kommissie getuig het dat Ramathlodi ’n spioen was.

Hy wil hê die oudpresident moet vorendag kom met bewyse om sy bewerings te staaf nadat die Zondo-kommissie hom ingelig het dat hy nie mense aan leuenverklikkertoetse onderwerp nie.

Ramatlhodi het met Rapport gepraat kort voordat die Zondo-kommissie Vrydag aangekondig het dat die oudpresident gedagvaar kan word om weer vanaf 27 tot 31 Januarie te kom getuig.

Die kommissie begin weer Dinsdag met getuienis van kol. Christine Anderson oor die Guptas se Waterkloof-landing.

Jacob Zuma, Zondo
Oudpres. Jacob Zuma met sy verskyning voor die Zondo-kommissie in Julie verlede jaar. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma het in Julie verlede jaar getuig dat Ramatlhodi destyds as student in Lesotho as spioen gewerf is.

Hy het ook getuig dat Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, opdragte van die apartheidspolisie ontvang het.

Toe hy daarna weer voor die kommissie moes verskyn, was hy glo siek.

Former president Jacob Zuma.
Oudpres. Jacob Zuma.

Ramatlhodi en Nyanda het dadelik Zuma se uitlatings verwerp en eersgenoemde het die oudpresident uitgedaag tot leuenverklikkertoetse vir albei.

“Die kommissie het my versoek om eerder ’n beëdigde verklaring in te dien, wat ek toe gedoen het.

“Daarin ontken ek wat hy getuig het en ek daag Zuma uit om bewyse vir sy bewerings te verskaf,” het Ramatlhodi, oudpremier van Limpopo wat onder meer gedien het as minister van staatsdiens en administrasie en minister van minerale bronne in Zuma se kabinet, Donderdag aan Rapport gesê.

Ramatlhodi sê hy was nie juis geskok oor Zuma se uitlating nie, “want ek is nie ’n spioen nie”.

“Ek was egter bekommerd dat hy onder eed gelieg het.”

Hy verstaan wel hoekom Zuma die uitlating gemaak het. “Hy was baie kwaad vir my omdat ek sekere goed voor die kommissie getuig het op ’n wyse wat nooit deur iemand anders gesê is nie.”

Dié gewraakte woorde was dat Zuma die land “opgeveil het”.

Sowel Ramatlhodi as Paul Mashatile, ANC-tesourier-generaal, asook kerkleiers in Kimberley steun die wens van aartsbiskop Thabo Makgoba dat 2020 “die jaar van die oranje oorpak” moet wees soos staatskapers van die Zuma-bewindsjare tronk toe gaan.

Makgoba, Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, het Oukersaand in sy boodskap in die St George’s-katedraal in die Moederstad gesê hy hoop dis ’n jaar van afrekening teenoor “diegene wie se gierigheid die land tot na aan die afgrond gedryf het”.

Mashatile sê oortreders, waar hulle hulle ook al bevind, moet tronk toe. “Dit was altyd ons siening.

“As ANC-lede die wet oortree het, moet hulle aan die pen ry. Ons beskerm niemand nie.”

Ramatlhodi sê die staatsorgane moet skoongemaak word om die werk te doen waarvoor hulle geskep is.

“Tweedens dink ek dit was belangrik om eers die eenheid van die organisasie te konsolideer. Dis ’n missie wat afgehandel moet word om die element van onsekerheid by beleggers te verwyder.“Maar daar gaan inhegtenisnemings wees. Mense gaan aangekla word. Daar is geen kwessie daaroor nie, want hulle het posisies van vertroue verraai.”

Intussen het Zondo die hof versoek om die termyn van die kommissie, wat weer van Dinsdag sit, tot Desember te verleng.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig Zondo het in hofstukke aangevoer sy werk sal nutteloos wees as uitstel nie verleen word nie.

Die kommissie was veronderstel om sy taak einde Februarie te voltooi. Dit is egter so omvangryk dat dit tot vyf of ses jaar kan neem om alle ondersoeke te voltooi, sê Zondo.

Die kommissie voer aan daar is 30 staatsondernemings, 29 nasionale regeringsdepartemente, sowat 90 provinsiale departemente en 200 munisipale departemente wat ondersoek moet word. Voorts word die wetstoepassings-agentskappe soos die Valke, die nasionale vervolgingsgesag, misdaadintelligensie en die spesiale ondersoekeenheid ook by ondersoeke betrek.

In die 15 maande tot dusver kon die soeklig net val op agt van die nasionale departemente, drie of vier provinsiale departemente en geen munisipaliteite nie.

Zondo is van plan om die hof te versoek vir nog ’n verlenging of toe te laat dat uitstaande sake na ander wetstoepassingsagentskappe verwys word of dit te onderwerp aan ’n verdere kommissie van ondersoek.

Die kommissie het aanvanklik ses maande gekry om die ondersoek te voltooi, waarna die hooggeregshof in Pretoria genader is om die termyn te verleng.

Sowel die presidensie as Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, moes aan die hof insette gee.

Die hof het die kommissie toe 24 maande gegee, bereken vanaf 1 Maart 2018.

“Ons volg nou dieselfde proses,” sê eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.