Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Oudredakteurs ontbloot ‘fop-narratief’ met hul papiertier

Dr. Iqbal Survé, sakeman en uitvoerende voorsitter van Independent Newspapers (IN), het met sy destydse oorname van die koerantgroep na bewering transformasie as rookskerm gebruik om van al sy uitgesproke teenstanders by die groep se koerante ontslae te raak.

Só het Chris Whitfield, voormalige redakteur van die Cape Times, Cape Argus, Weekend Argus en gewese hoofredakteur van IN in Kaapstad, Donderdag aan die Kaapstadse Persklub gesê waar hy en Alide Dasnois, voormalige redakteur van die Cape Times en Business Report, hul nuwe boek, Paper Tiger, bespreek het.

Die boek lewer ’n binneblik oor wat Dasnois en Whitfield persoonlik waargeneem het toe Survé en sy Sekunjalo-groep IN in 2013 oorgeneem het.

Volgens Whitfield is die joernalistiek in Suid-Afrika in die algemeen nou by ’n “deurslaggewende” oomblik weens ’n heersende tendens dat media-instellings mekaar openlik aanval en waarvan IN volgens Whitfield “seker die openlikste voorbeeld is”.

Dr. Iqbal Survé Foto: Yunus Mohamed

“Ons moet egter erken dat daar tans ondersoekende joernaliste by Media24, amaBhungane en Daily Maverick is wat na die ander kant toe druk. Hulle is eties en pleeg nog behoorlike joernalistiek. Ek dink egter dat joernalistiek in hierdie land steeds ernstig bedreig word.”

Whitfield het verder aan gaste gesê dat redaksionele onafhanklikheid by IN deesdae heeltemal laat vaar is.

“En dit het ernstige kommersiële gevolge vir die koerante.”

By hom bestaan daar geen twyfel daaroor dat transformasie onder die vorige Ierse eienaars van IN baie stadig gevorder het nie.

“Ons as redakteurs was baie bewus daarvan en dat baie meer vir transformasie gedoen moes word.”

Volgens Whitfield was die bewegings wat IN ná Survé se oorname in die naam van transformasie gemaak het, eerder gemik teen “onafhanklike denkers”.

Die nuwe eienaar (Surve) het nie daarvan gehou dat mense teen hom opstaan nie
Chris Whitfield

“En daar was deur die bank swart en wit mense (wat onafhanklike denkers was). Die nuwe eienaar (Surve) het nie daarvan gehou dat mense teen hom opstaan nie. Hy het mense gesoek wat grootliks hom en sy agenda navolg en wat wonderlike stories oor hom skryf en hom loof,” sê hy.

“Mense wat hulle teen hom verset het, onder wie baie wit mense waarby ek en Alide ingesluit is, is gekritiseer dat ons teen transformasie gekant is. Dit was die narratief wat daaruit gespruit het.”

Hy sê dit is juis hoekom hy die boek wou skryf.

“Een van die redes waarom ek so entoesiasties was om die boek te skryf, was omdat daar ’n onregverdige narratief daarbuite was. Ek wou ons menings ook uitkry.”

Volgens hom was Dasnois veral ’n baie vurige voorstander van transformasie.

Sy het op haar beurt gesê hulle was aan die begin van die oorname baie optimisties dat ’n Suid-Afrikaanse eienaar baie goed vir die toekoms van IN kon wees.

“Dit is onlangs dat die (IN se) koerante as wapen of stomp voorwerp begin gebruik het om teenstander mee oor die kop te slaan. Van ons hier is self sulke teikens wat in die koerante aangeval word en dikwels deur die eienaars van IN gesien word as die instrumente van ander media-eienaars,” sê Dasnois.

“Ons skryf in die boek hoe sommige kollegas daarvan beskuldig word dat hulle deel van die apartheidsera-Stratcom is. Dit is nie so nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.