Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ouma Katrina betower Cyril in Noord-Kaap

Pres. Cyril Ramaphosa het waarskynlik Dinsdag op Erfenisdag in Upington meer Afrikaans gepraat as in die laaste paar jaar saam.

Die president het sy besoek aan dié Noord-Kaapse dorp langs die Oranjerivier by die nuwe Sandile Present-gemeenskapsbiblioteek begin.

Hier is as Ramaphosa voorgestel aan sprekers van die tradisionele tale N|uu en Nama. 

Hulle het voorleggings in hul taal gedoen, maar wanneer hulle met Ramaphosa gepraat het, was dit hoofsaaklik in Afrikaans.

Die president het vir ’n halfuur lank met ’n breë glimlag saamgesels. Die besoek is regstreeks op Twitter deur Ramaphosa se personeel uitgesaai.

Pres. Cyril Ramaphosa ontvang Dinsdag in Upington ’n boek van ouma Katrina Esau. Foto: GCSI

Ouma Katrina Esau, wat haar daarvoor beywer dat die N|uu-taal nie heeltemal verdwyn nie, het Ramaphosa (in Afrikaans) om hulp gevra met die skooltjie wat sy bedryf om kinders N|uu te leer.

“Destyds het die wittes, en ook van die bruines wat die taal nie geken het nie, gesê die N|uu-taal is ’n lelike taal. ‘Praat liewer Afrikaans’, het hulle gesê.

“Dis ’n baie mooi taal, president, baie mooi,” het sy gesê en Ramaphosa kortliks in haar moedertaal toegespreek.

“Dis nie ’n lelike taal nie. Dis ’n pragtige taal,” het Ramaphosa geantwoord.

“President, kan ek president vra om my asseblief te help? President is ’n grootkop, president. Ek weet president is nie vandag hier om geld af te gooi nie.”

Sy bedryf die skool met haar pensioengeld en skenkings. Ouma Katrina soek geld om CD’s en DVD’s te maak van haar taal wat sy vir opvoedingsgeleenthede wil gebruik.

In ’n stadium het Ramaphosa vir haar gevra: “Wat is ouma se naam?”

Sy het geantwoord Katrina Esau maar dadelik bygevoeg “my maklike naam is Blomsie of Koekie, president”.

In ’n stadium het sy na Ramaphosa verwys as “pastoor”, maar haar fout dadelik reggestel: “Askies president.”

Ouma Katrina het ook aan die president gesê sy sukkel met vervoer.

“Die mense daar van Olifantshoek, Kuruman en Van Zylsrust wil hê ek moet hulle kom help met die taal.

“ ’n Lorrietjie kan help, president. Kan die president nie daai ou Datsun-bakkie in u garage uitstoot nie president?”

Ramaphosa het gesê die Noord-Kaapse regering sal haar help waar hy kan om haar taal te bevorder.

“Hoe oud is ouma?” het die president gevra.

“Nee, nee, president, ek wil nie oor my ouderdom praat nie,” het sy geantwoord.

’n Rukkie later het sy toegegee sy is 86 jaar oud.

“86! Jy was al 20 jaar oud toe ek gebore is. Jy is baie mooi en jonk” het Ramaphosa laggend gesê.

“Dankie, president.”

Ouma Katrina het ’n boek in die N|uu-taal aan die president gegee.

“Is dié boek vir my? O, dankie, Daar sal nou ook ’n boek in die N|uu-taal in die Uniegebou (in Pretoria) wees.”

Toe hy ná sy besoek aan die biblioteek opstaan, het die president vir ouma Katrina ’n drukkie gegee en gesê: “Dankie ouma, dit was lekker om u te ontmoet.

“Tot siens president,” het ouma Katrina gesê, wat duidelik nog lus was vir gesels.

Ramaphosa het later in sy toespraak in die Mxosile Jacobs-stadion ’n paar keer in Afrikaans na sy ontmoeting met ouma Katrina verwys.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Erfenisdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.