Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OVK begin hofproses om verkiesing te laat uitstel

Dit is vir die Verkiesingskommissie (OVK) onmoontlik om ’n verkiesing te hou wat ingevolge die Grondwet in die voorgeskrewe tydraamwerk sal geskied en terselfdertyd vry en regverdig is.

So voer Glen Mashinini, OVK-voorsitter, aan in hofstukke wat Woensdag as deel van ’n dringende aansoek by die konstitusionele hof ingedien is om die munisipale verkiesing, wat voorlopig op 27 Oktober sal plaasvind, uit te stel.

Ingevolge die Grondwet moet die verkiesing voor 1 November plaasvind.

Glen Mashinini, OVK-voorsitter. Foto: Deaan Vivier

Mashinini voer egter in ’n beëdigde verklaring aan dat as die verkiesing nie uitgestel word nie, sal dit weens die Covid-19-pandemie nie op ’n vrye en regverdige manier kan geskied soos wat die Grondwet vereis nie.

“Dit is onmoontlik vir die kommissie om ’n verkiesing te hou wat die vereistes van die Grondwet nakom.”

Die aansoek steun swaar op die verslag van oud-adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, wat ná wye konsultasie en honderde insette, aanbeveel het dat die verkiesing weens die huidige omstandighede in die Covid-19-pandemie uitgestel word.

Mashinini vra ook die hof om die aansoek regstreeks aan te hoor, onder meer omdat dit uit “een van die ergste wêreldwye pandemies in menseheugenis” spruit en ’n invloed het op elke Suid-Afrikaner se reg om te kan stem.

Die kommissie benadruk ook dat die verkiesing nie later as 28 Februarie volgende jaar gehou sal word nie.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum aangekondig dat hy tot die regsgeding gaan toetree.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslike regeringsake, voer in ’n verklaring aan dat die verkiesing veilig kan voortgaan, mits die regte Covid-19-maatrëels ingestel word.

“ ’n Chaos heers in munisipaliteite, en die Grondwet maak voorsiening vir gereelde verkiesings sodat burgers die samestelling van munisipale rade kan verander.”

Die ANC het dit Woensdag duidelik gestel dat hy die uitstel van die verkiesing steun, hoewel die DA meen dat dit in die belang van demokrasie moet voortgaan.

Mashinini het vroeër die dag op ’n mediakonferensie gesê totdat ’n hof anders besluit, sal die kommissie intussen beplan asof die verkiesing op 27 Oktober voortgaan.

“Ons wil Suid-Afrikaners verseker dat ons daartoe verbind is om ’n verkiesing in ooreenstemming met die grondwetlike standaarde te hou en om dit in die kortste moontlike tydperk te doen, terwyl ons ook die reg op lewe, liggaamlike integriteit en toegang tot gesondheidsorg in gedagte hou,” het hy gesê.

Mashinini sê ná dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se proklamasie van die verkiesingsdatum Dinsdag, moet die OVK ’n tydrooster publiseer en by die spertye hou.

Politieke partye moet ook binne tien dae hul benoemings afhandel en hul kandidatelyste deurstuur.

Die proklamasie het ook daartoe gelei dat die kiesersrol Dinsdag om middernag gesluit het. Dit beteken as die verkiesing op die vasgestelde datum gehou word, sal kiesers nie meer vir die verkiesing kan registreer nie.

As die hof die OVK se aansoek om uitstel toestaan, sal die kiesersrol egter heropen en sal daar waarskynlik ’n registrasienaweek wees.

Meer oor:  Verkiesing  |  Verkiesingsdatum  |  Plaaslike Verkiesing  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.