Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OVK nader nou grondwethof oor uitstel van eleksie

Die Verkiesingskommissie (OVK) gaan volgende week die konstitusionele hof nader vir geregtelike goedkeuring om die plaaslike verkiesings na ’n tydperk buite die huidige grondwetlike raamwerk uit te stel.

Volgens Sy Mamabolo, OVK-hoofkiesbeampte, beteken dit egter nie dat die OVK al sy voorbereidings vir ’n plaaslike verkiesing op 27 Oktober vanjaar laat vaar nie omdat hy nie weet wat die hof se uitspraak sal wees nie.

“Om nie met ons voorbereidings voort te gaan nie, sal die hofuitspraak vooruitloop. Ons bevind ons inderdaad in ’n dilemma,” het Mamabolo Vrydag in die parlement gesê.

Glen Mashinini Foto: Daily Sun

Mamabolo en Glen Mashinini, OVK-voorsitter, het voor die portefeuljekomitee oor binnelandse sake verslag gedoen oor die gevolge van die onlangse verslag van afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, waarin die uitstel van die verkiesing aanbeveel word.

Mashinini het aan LP’s gesê dat die OVK hom tans in ’n “ongekende en uitsonderlik buitengewone situasie met ongetoetse grondwetlike implikasies bevind”.

Hy het gesê die OVK is tans besig om hieroor met ’n senior advokaat en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, te konsulteer.

Moseneke het in opdrag van die OVK en ná wye konsultasie bevind dat dit onder die huidige omstandighede weens Covid-19 “nie redelik moontlik” sou wees om ’n veilige, vrye en regverdige verkiesing op 27 Oktober vanjaar te hou nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het dít vroeër vanjaar as die plaaslike verkiesingsdatum aangekondig.

Moseneke het verder aanbeveel dat die verkiesing uitgestel word, maar dat dit voor 28 Februarie 2022 plaasvind.

Kragtens die Grondwet moet ’n verkiesing binne 90 dae gehou word nadat plaaslike regerings se termyn geëindig het. Die huidige termyn eindig vroeg in Augustus – vyf jaar ná die vorige plaaslike verkiesing in 2016.

Die Grondwet maak egter nie voorsiening vir die verlenging van munisipale termyne nie.

Om nie met ons voorbereidings voort te gaan nie, sal die hofuitspraak vooruitloop. Ons bevind ons inderdaad in ’n dilemma.

Moseneke het voorgestel dat die OVK ’n “toepaslike hof” vra dat die verkiesing uitgestel word.

Masego Sheburi, OVK-adjunkhoofkiesbeampte, het Vrydag verder aan LP’s gesê dat die OVK intussen die Moseneke-verslag aanvaar het.

Volgens Sheburi is van die gevolge daarvan dat die OVK die beplande registrasienaweek (31 Julie en 1 Augustus) moes uitstel.

Die OVK het ook al 22 van Moseneke se aanbevelings deeglik oorweeg en sal die implementering van sy verskeie verkiesingsprojekte ingevolge daarvan aanpas.

Sheburi het bygevoeg dat hoewel die koronavirus-infeksiesyfers na verwagting in Oktober laer sal wees, is dit tans weens die derde vlaag van infeksies hoog, en sal die kommissie, individue en politieke partye dus nie onbelemmerd in aanloop tot 27 Oktober vir die verkiesings kan voorberei nie.

Die aanbeveling dat ’n verkiesing in Februarie volgende jaar “baie veiliger” sal wees, is volgens Sheburi ook gegrond op die aanname dat baie meer kiesers landwyd teen daardie tyd al ingeënt sal wees.

“Selfs al styg die infeksiesyfers daardie tyd weer skerp, sal dit weens die inentings nie tot meer hospitaalopnames óf Covid-19-sterftes lei nie.

“Dit is daarom die veiligste tydperk waarin vrye en regverdige verkiesings kan geskied,” het Sheburi bygevoeg.

Meer oor:  Ovk  |  Sy Mamabolo  |  Verkiesing  |  Uitstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.