Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OVK (vir eers) gereed vir verkiesing in 2021

Die Verkiesingskommissie (OVK) sê hy is gereed om voort te gaan met die 2021-munisipale verkiesing. Vir eers.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het Dinsdag op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê dat die verkiesing op die vroegste op 4 Augustus volgende jaar sal plaasvind.

“Covid-19 bly ’n risiko, maar ons hoop die pandemie is teen daardie tyd verby of onder beheer. Intussen sal ons voorberei asof die verkiesing voortgaan.”

Glen Mashinini. Foto: Leon Sadiki

Mashinini sê die verkiesing moet plaasvind 90 dae nadat die vyfjaartermyn sedert die vorige munisipale verkiesing verstryk.

Hy sê die OVK is nog besig om die adresse van kiesers na te gaan. Hulle sal later meer besonderhede gee oor twee beoogde registrasienaweke, om veral jong mense te kry om te registreer.

Weens besnoeiings aan die OVK se begroting word die moontlikheid egter oorweeg dat dié registrasieproses aanlyn plaasvind.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, moet die verkiesing proklameer, en die OVK is met haar in gesprek daaroor.

Mashinini sê die Munisipale Afbakeningsraad se werk om nuwe grense vir sekere wyke af te baken, is deur die pandemie ontwrig.

“As hulle nou voortgaan soos beplan, sal dit nie die verkiesing raak nie. Maar as hulle werk verder vertraag word, kan dit ’n uitkringeffek hê.”

Net soos in die verlede sal die verkiesing op ’n Woensdag plaasvind en sekere groepe sal vooraf ’n spesiale stem kan uitbring.

Volgens die OVK raak die onlangse uitspraak deur die Grondwethof dat die Kieswet gewysig moet word sodat onafhanklike kandidate kan deelneem, nie die munisipale verkiesing nie.

Die munisipale verkiesing is onderhewig aan die afsonderlike Munisipale Kieswet.

Verskeie LP’s wou weet of die munisipale verkiesing met die algemene verkiesing in 2024 saamgevoeg kan word. Die OVK wou hom nie veel oor dié kwessie uitlaat nie, maar sê dit is ’n beleidskwessie waaroor die parlement moet besluit.

Meer oor:  Ovk  |  Glen Mashinini  |  Verkiesing  |  Portefeuljekomitee  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.