Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OVK vra adres-uitstel tot ná verkiesing

Die Verkiesingskommissie (OVK) wil hê die konstitusionele hof moet beveel dat niemand die algemene verkiesing volgende jaar ongeldig of onregverdig kan verklaar op grond daarvan dat 18% van die kiesers se adresse nog nie op die kieserslys is nie.

“Die verkiesing kan egter steeds op ander gronde bevraagteken word,” het adv. Steven Budlender Woensdag namens die OVK in die konstitusionele hof in Johannesburg aangevoer.

Hulle het alles begin. Van links is die Potchefstroomse prokureurs Hans-Jurie Moolman en sy vennoot, Clarissa Pienaar, by Pasela Mohlope, een van die onafhanklike kandidate in die destydse Tlokwe-stadsraad, Woensdag in die konstitusionele hof in Johannesburg. Foto: Susan Cilliers

Die hof het die OVK in 2016 opdrag gegee om voor einde Junie vanjaar alle beskikbare adresse van kiesers in die kieserslys op te neem. As dit nie gedoen word nie, kan vrye, regverdige en deursigtige verkiesings bedreig word. Dié datum is intussen tydelik tot einde November uitgestel.

Nou wil die OVK dié datum tot 29 November 2019 laat uitstel – tot ná die algemene verkiesing volgende jaar.

Die konstitusionele hof het in 2016 in die guns van onafhanklike kandidate in die destydse Tlokwe-stadsraad in Potchefstroom beslis nadat hulle beswaar gemaak het teen ernstige gebreke met adresse op die kieserslys.

Die hof het die hele land se kieserslyste daarna ongeldig verklaar weens die gebrek aan kiesers se adresse.

Budlender het aangevoer die kommissie het sedert die bevel in Maart 2016, toe net 34% van die kiesers se adresse op die lys was, groot vordering gemaak.

“Op 19 Augustus (2018) was 82% van die kiesers se adresse op die lys. Ons het sedert 2016 sowat R350 miljoen bestee om kiesers se adresse by verskillende geleenthede te bekom. Niks lewer egter beter resultate op as registrasiegeleenthede voor verkiesings en die stemdag nie.” Omdat daar nog nie weer ’n algemene verkiesing was nie, het die OVK stadiger met die proses gevorder as beplan. “Ons het alles wat ons kon, gedoen.”

Budlender het die hof gevra om reeds voor die 2019-verkiesing te bevind dat die OVK alles redelik moontlik gedoen het om adresse te bekom.

“Ons wil voorkom dat die verkiesing op die nipper gekanselleer word weens die adreskwessie, of dat politieke partye agterna sê dit was nie regverdig nie bloot op grond van die adreskwessie. Dit sal die geloofwaardigheid van die verkiesing skade berokken.

“Ons sal nie die volle 18% van kiesers se adresse voor die 2019-verkiesing kan kry nie. Dié verkiesing bied juis ’n verdere geleentheid om ’n groot aantal adresse te kry, daarom vra ons dat die sperdatum tot ná die verkiesing verskuif word.”

Adresse speel ’n kleiner en selfs irrelevante rol in algemene verkiesings.

Uitstel tot ná die 2019-verkiesing sal nie grondige skade aan die geloofwaardigheid van die verkiesing aanrig nie, voer Budlender aan.

“Adresse speel ’n kleiner en selfs irrelevante rol in algemene verkiesings. ”

Adv. Kemp J. Kemp het egter namens die IVP aangevoer dat die afwesigheid van adresse in ’n algemene verkiesing juis ’n gaping vir manipulasie en bedrog met die kieserslys skep. Vrywaring van dispute oor die adreskwessie sal juis die persepsie dat die verkiesing vry en regverdig is, kan skaad. “ ’n Mens kan nooit voorspel watter kwessies gaan opduik nie.”

Adv. Gerhard Roberts het namens Pasela Mohlope en Johanna Xaba, die onafhanklike kandidate in die destydse Tlokwe-stadsraad, die vrywaringvoorstel verwerp en gevra indien ’n uitstel toegestaan word, dit vóór die 2019-verkiesing moet verstryk.

Roberts en Kemp het voorgestel dat kiesers wat op stemdag sonder ’n adres opdaag ’n adres kan verskaf sodat dit later nagegaan en betwis kan word.

Adv. Anton Katz het namens die DA aangevoer die uitstel moet slegs tot Maart 2019 wees, waarna die OVK die hof weer kan nader as daar nog probleme met die spertyd is.

Uitspraak is voorbehou.

Meer oor:  Ovk  |  Johannesburg  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.