Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OVK wil elektroniese stem en tellery uittoets

Die moontlikheid dat Suid-Afrikaners in die nabye toekoms elektronies in verkiesings kan stem en die stemme ook digitaal getel word, word dalk binnekort getoets.

As die Verkiesingskommissie (OVK) sy sin kry en die LP’s steun sy voorgestelde wysigings daarvoor in die Wysigingswetsontwerp oor die Kieswette, kan dit beslis gebeur.

Die wysigingswetsontwerp dien tans voor die parlement.

Glen Mashinini, OVK-voorsitter, het Dinsdag die wetsontwerp in die portefeuljekomitee oor binnelandse sake bespreek en ook vrese besweer dat die OVK daarmee Suid-Afrika se stemprosedures “eensydig wil verander”, soos talle mense beweer.

Glen Mashinini. Foto: Leon Sadiki

Hy sê die OVK stel dit net voor omdat die kiesstelsel moet aanpas by tegnologiese veranderinge én dat die elektroniese stem- en telprosedure eers net in beheerde en beperkte gebiede getoets sal word.

Hy benadruk dit sal ook die regsraamwerk waarin verkiesings in Suid-Afrika gehou word, versterk en verbeter.

Dit sal volgens hom die administratiewe prosesse vaartbelyn maak en die administratiewe las op politieke partye en ander deelnemers aan verkiesings verminder.

Verder sal dit ook verwarring oor verkiesingsprosesse uitskakel.

Mashinini het gesê hy wil LP’s veral toespreek ook die een kwessie wat openbare reaksie op die wysigings tans oorheers.

“Dít is oor die voorgestelde wysigings om die OVK in staat te stel om ’n vorm van elektroniese stemmery en -tellery te kan toets as deel van ons ondersoeke na toekomstige oplossings vir verkiesings.

“Vordering op die gebied van tegnologie, die toenemende beperkings op hulpbronne en die behoefte om ’n hoogs akkurate verkiesingsuitslag so gou moontlik ná verkiesings te verskaf, noodsaak ons om die moontlikheid en risiko’s van digitale tegnologie vir verkiesings te ondersoek.

“As die OVK dit nie op klein skaal kan toets nie, sal ons nie dit binne die unieke Suid-Afrikaanse omstandighede rondom verkiesings kan toets en daaruit leer nie.”

Hy sê hulle weet dat ’n paar mense en belanghebbende organisasies in hul voorleggings die kommer uitgespreek het dat die OVK met dié wysigings die verkiesingsprosedures eensydig wil verander.

“Ek wil egter aan almal die versekering gee dat dit nooit die bedoeling was nie en enige vrese dat die OVK op sy eie ’n nuwe stemprosedure wil instel, is totaal ongegrond.”

As die OVK dit nie op klein skaal kan toets nie, sal ons nie dit binne die unieke Suid-Afrikaanse omstandighede rondom verkiesings kan toets en daaruit leer nie.

Volgens Mashinini word dit voorgestel omdat ’n deursigtige en akkurate proses vir die tel van stemme die kern van die integriteit van die verkiesingsprosesse is.

“Ons het onlangs gesien hoe probleme rondom die stem- en telproses tydens verkiesings in Suid-Afrika en oorsee ’n land in wanorde kan dompel as dit nie doeltreffend bestuur word nie.

“As OVK wil ons dus net seker maak dat ons nie ’n onguns aan ons demokrasie en die land doen nie.

Volgens hom spruit enige voorstelle vir wysigings aan die kieswette uit ’n proses van inklusiewe konsultasies en wydverspreide ondersteuning van belanghebbendes.

“Natuurlik sal nie almal terselfdertyd die nuwe wysigings omarm nie en daarom benadruk ons dat ons almal die wysigings saam deur loodsprojekte in beheerde en beperkte gebiede moet ondersoek.”

Meer oor:  Ovk  |  Glen Mashinini  |  Verkiesings  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.