Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Paaie se geld gebruik vir e-tol se flop

Slaggate en gevaarlike paaie oor die land heen gaan waarskynlik drasties vererger omdat broodnodige konstruksieplanne geskrap is.

Die Nasionale Padagentskap (Sanral) het in sy jaarverslag wat die afgelope week bekend gestel is, in wese erken Gauteng se e-tol het die hele agentskap geknak.

Sanral is lank reeds nie meer net verantwoordelik vir die nasionale roetes – die N1 tot N18 – nie, maar moet elke jaar nóg streekroetes oorneem soos wat provinsiale en plaaslike regerings dit nie in stand kan hou nie.

Sanral het in die afgelope jaar tot Maart net sowat R7 miljard uitgegee aan instandhouding van paaie. Dis 18% minder as die jaar tevore.

Kenners sê die werklike probleme sal nou eers begin deursyfer omdat Sanral besig is met massiewe besnoeiings van sy konstruksieprojekte.

In ’n ongekende stap het die tesourie toestemming gegee dat geld wat bedoel is vir die land se meer as 19 000 km paaie waarop daar nie tolgeld gehef word nie, gebruik kan word vir die lopende uitgawes soos papier en personeel om die mislukte e-tolprojek van 187 km in Gauteng te bedryf.

Kontrakte om paaie te herstel reeds ingeperk

Sanral het nog altyd die tol-portefeulje en nie-tolportefeulje afsonderlik bestuur met onderskeidelik tolgeld en staatsubsidies.

Sanral het by navraag aan Rapport gesê hulle het 143 van die 339 ontwerp- en konstruksieprojekte vir die huidige jaar tot ’n mindere of meerdere mate ingekort om die mees kritieke instandhouding te kan doen.

Dít beteken dat nuwe paaie nie gebou kan word nie en die bestaande paaie vinniger vodde gery sal word.

Rapport het vroeër berig hoe Sanral beplan om die Hugenotetonnel tussen die Paarl en Worcester te sluit vir instandhouding omdat daar nie genoeg geld is om die alternatiewe tonnel vir verkeer oop te stel nie.

Motoriste weier steeds om hul e-tol te betaal en Sanral se inkomste daaruit het in die afgelope jaar gedaal tot sowat R700 miljoen – terwyl R3,6 miljard beoog is sodat die e-tolprojek homself finansier.

Wayne Duvenage van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê as die regering na verbruikers geluister het en die e-tolstelsel vervang het met ’n brandstofheffing was die aanvanklike skuld van R20 miljard reeds afbetaal.

Duvenage sê Sanral probeer motoriste emosioneel afdreig deur die instandhouding van ander paaie op die altaar te plaas as motoriste nie hul e-tol betaal nie.

Van beloftes dat die regering teen Mei sou uitsluitsel gee oor die voortbestaan van e-tol, het dadels gekom en terwyl die leiers voete sleep, word Sanral se probleme net al hoe groter.

Luidens Sanral se jaarverslag het die regering spesiale toestemming gegee om R1,9 miljard van die nie-tolportefeulje te gebruik vir tolpaaie en in die huidige jaar word ’n soortgelyke oorbetaling van R5,75 miljard beplan.

Dit sal glo genoeg wees om die e-tolprojek staande te hou tot Julie – teen ’n koste van amper ’n hele jaar se instandhouding aan nie-tolpaaie.

Sanral waarsku in sy jaarverslag dat die voortbestaan van die land se ekonomie onlosmaakbaar deel is van die gehalte van die padinfrastruktuur.

Boonop is verskeie konstruksieprojekte gekniehalter weens ’n geskil met die tesourie oor die wettigheid van sekere tenderprosesse.

Die konstruksiedatadiens Industry Insight sê die waarde van kontrakte wat Sanral in die 12 maande tot einde April toegeken het, het met 71% gedaal teenoor dieselfde tydperk ’n jaar tevore.

Chris Campbell, uitvoerende hoof van Consulting Engineers SA (Cesa), sê Sanral is reeds twee jaar agter met sy padbouprogram.

Om instandhouding uit te stel, jaag uiteindelik die koste dramaties op, sê hy.

Hoewel instandhoudingsbegrotings ’n maklike teiken is in ’n geldnood, haal dit ’n mens later in soos wat die e-tolprojek nou vir Sanral ingehaal het.

Meer oor:  Chris Campbell  |  E-Tol  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.