Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Paasfees moet dopgehou word rakende pandemie – Cyril

Pres. Cyril Ramaphosa sê daar sal binnekort aankondigings gemaak word oor hoe die koronavirus-pandemie vorentoe deur die regering bestuur sal word.

Hy het Vrydag reageer op ’n vraag oor die verslapte vlak 3-inperking wat al langer as drie weke geld terwyl aangemelde koronavirus-infeksies aansienlik sedert die tweede vlaag gedaal het en tans taamlik laag bly.

“In Desember was ons bekommerd oor Kersfees en daar was toe die tweede vlaag. Nou moet daar gekyk word na die Paasfeestydperk (vroeg in April). Dit is kwessies wat in berekening gebring moet word en dit sal bespreek word met die wetenskaplikes,” het Ramaphosa gesê.

Die president het gepraat op ’n ontmoeting met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef). Hy het benadruk dat die regering deur die wetenskap gelei word oor sy benadering ten opsigte van die pandemie.

“Ek voel gemaklik elke keer as ek ’n besluit neem wanneer dit gegrond is op goeie wetenskaplike inligting. Ek is trots op die land se wetenskaplikes want hulle is van die voorste wetenskaplikes ter wêreld.”

Die nasionale koronavirus-bevelsraad vergader weekliks oor die regering se benadering tot die pandemie. Boonop sal daar met premiers en ander belangegroepe gekommunikeer word oor hoe die pandemie vorentoe bestuur moet word.

In Desember was ons bekommerd oor Kersfees en daar was toe die tweede vlaag. Nou moet daar gekyk word na die Paasfeestydperk (vroeg in April).

Meer as 50 000 gesondheidswerkers is volgens Ramaphosa reeds teen die virus ingeënt sedert die regering se inentingsprogram twee weke gelede op dreef gekom het.

Die tweede fase, om 16,5 miljoen mense in te ent, sal dalk in April begin en kan tot ses maande duur.

“Namate die toediening van entstowwe vorder, sal dit steeds nodig wees dat mense maskers dra en ’n gesonde afstand handhaaf. Die land moet sy bes doen om ’n verdere oplewing van infeksies te vermy,” het Ramaphosa gesê.

Volgens die president kry die stryd teen korrupsie momentum en is dit onstuitbaar.

Staatsbank

Hy het gesê hy ondersteun die stigting van ’n nuwe staatsbank, want daar is ’n plek daarvoor.

“Talle ontwikkelende lande soos China het ’n aantal staatsbanke. Die banksektor word oorheers deur slegs vier of vyf banke en daar moet ruimte geskep word vir mededinging.”

SAL

Hy het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) meer as R3 miljard van die regering gevra het nadat daar al telkemale reddingsboeie aan hom toegestaan is.

“Die SAL het reeds baie geld ontvang en dit is ’n bekommernis vir baie Suid-Afrikaners. Daar sal nougeset gekyk word na hoe die miljarde bestee is wat reeds aan die SAL gegee is,” het hy gesê.

Maatskaplike toelae

Oor maatskaplike toelae het erken Ramaphosa dat daar nie soveel geld daarvoor begroot is as in die verlede nie.

“Die land het ’n enorme skuldlas wat aanhou styg. As dit aanhou, sal dit slegte nagevolge hê wat vermy moet word. Die plan is om ’n surplus te bewerkstellig om die situasie om te keer. Suid-Afrika gaan deur ’n baie moeilike tyd.”

Ekonomiese hervorming

Nog ’n prioriteit is ekonomiese hervorming want in sommige gebiede is daar stagnasie, soos met kragopwekking.

Twee jaar gelede het Ramaphosa ’n infrastruktuurfonds aangekondig. Dit het volgens hom langer geneem as verwag om op dit op die been te kry, maar die fonds is nou daar. “Baie geld is belê om seker te maak dat infrastruktuur die hoeksteen word van die herstel van die ekonomie. Ek wil hê die projekte moet nou begin.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Vlak 3  |  Sanef  |  Paasfees  |  Covid-19  |  Verslapping  |  Inperkings  |  Koronavirus  |  Derde Golf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.