Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Pandemie polities bedekte seën vir Ramaphosa’ – Theo Venter

Pres. Cyril Ramaphosa se leierskap is gedurende die Covid-19-pandemie gekonsolideer en ’n kabinetskommeling behoort voor die einde van die jaar plaas te vind waarmee hy sy houvas verder sal toon, meen die politieke ontleder Theo Venter.

Venter het Vrydag in ’n praatjie op die Dewetsdorp Veldfees in die Vrystaat gesê hy het reeds vroeër voorspel dat die pandemie ’n bedekte seën vir Ramaphosa sal wees en hom die vermoë sal gee om sy politieke situasie te versterk.

Hy het gesê dit was tot die president se voordeel dat die ANC se nasionale konsultatiewe konferensie, ’n beleidskonferensie, nie vanjaar kon plaasvind nie, waar dinge kon skeefloop en lokvalle op hom sou wag.

Die politieke ontleder Theo Venter praat Vrydag op die Dewetsdorp Veldfees. Foto: Marita Herselman

Venter, wat aan die Noordwes-Universiteit verbonde is, het gesê dié konferensie was Ramaphosa se grootste uitdaging.

“Die vorige keer wat dinge skeefgeloop het, was onder Thabo Mbeki. Hy het Jacob Zuma in 2005 afgedank, ten regte, en ’n jaar of wat later op die beleidskonferensie het die ANC-takke vir Mbeki gesê om Zuma terug te bring.”

Venter het gesê die ANC se “batterye” het pap geword omdat hy nie vergaderings kon hou nie, terwyl die regering s’n voortgegaan het.

“Ons het die afgelope ses maande gesien hoe hierdie twee prosesse eintlik uitmekaar is.”

Hy het gesê Ramaphosa is besig om sy steun verder te mobiliseer.

Venter meen die president se grootste rol is om die mense wat aangestel is om dinge te implementeer te verander.

“Hy is besig om sekere ouens stadig maar seker uit te beweeg.”

Hy meen 2021 gaan ’n moeilike jaar wees, onder meer omdat mense dan dít wat nie vanjaar kon plaasvind nie, gaan probeer inpas.

Hy het gesê egter die ekonomiese groei van die land gaan almal in 2021 verras.

Onteiening sonder vergoeding

“Ek kan geen waarborge vir julle gee nie, maar ek dink daar is op die oomblik genoeg staatsgrond beskikbaar om alles te doen wat hulle wil, vir ’n baie lang tyd, sonder om ooit aan iemand se grond te raak,” sê Venter.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep wat ook op die fees gepraat het, het gesê daar is nie ’n beter tyd as nou om grond te koop nie.

“Ek glo vas Cyril Ramaphosa is intelligent genoeg om te sorg dat hierdie ding (onteiening sonder vergoeding) nie gaan gebeur nie.

“Die openbare sektor in Suid-Afrika besit ’n geraamde 22 miljoen ha, dis ’n vyfde van die land. Dis waar hulle moet begin, dit sal hulle 5 000 jaar vat om ’n duik daarin, in terme van produktiwiteit, te maak,” het Botha gesê.

Venter sê onteiening sonder vergoeding is ’n regsbeginsel wat nie gaan slaag nie, omdat die twee hand aand hand gaan. Hoewel die onteieningswet reeds geskryf is, meen hy die Grondwet gaan nie verander kan word nie.


Meer oor:  Theo Venter  |  Pandemie  |  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.