Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Pandemie sal oor Cyril se presidentskap hang’
Pres. Cyril Ramaphosa

Die Covid-19-pandemie sal in die toekoms beslis oor pres. Cyril Ramaphosa se presidentskap hang.

Ook oor die ANC, glo prof. Jo-Ansie van Wyk, politieke wetenskaplike van Unisa en kenner van die politiek van gesondheid.

Oudpres. Thabo Mbeki se termyn sal weer onthou word vir sy ontkenning van die MIV/vigs-krisis.

Die verskil tussen die twee presidente se benadering is dat Ramaphosa die omvang van die huidige krisis besef. Hy het egter beperkte finansiële en politieke ruimte om in te beweeg, sê Van Wyk. Voorts konsulteer Ramaphosa, anders as Mbeki, wyd oor die kwessie, maar die besluitneming berus by die Covid-19-bevelsraad.

Nog ’n verskil tussen Ramaphosa en Mbeki is die rol wat tradisie en tradisionele leiers speel om die krisis te help oplos.

Wat tot sy voordeel strek is dat ’n entstof tydens die pandemie ontwikkel is.

Hoewel Ramaphosa bewus is van die korrupsie wat met die pandemie gepaard gaan, was daar nog geen kragdadige optrede daarteen nie.

Wat die ooreenkomste tussen Ramaphosa (Covid-19) en Mbeki (MIV/vigs) betref, is dat albei se regerings totaal onvoorbereid was op die omvang van die krisis. In albei se binnekring is of was daar ’n verdagmakery van die wetenskap.

“Mbeki het die bestaan, aard en behandeling van MIV/vigs ontken. As ’n mens na die wetenskaplikes van die wetenskaplike adviesraad luister, is daar by Ramaphosa ook ontkenning oor die wetenskap,” sê Van Wyk.

“Die wetenskaplike adviesraad het al gevra dat sy advies openbaar gemaak moet word omdat die regering en die bevelsraad sommige van sy advies ignoreer of wanaangepas het.”

Ironies genoeg het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in albei se kabinet gedien.

Prof. Erwin Schwella, regeerkundige aan die Hugenote-kollege in Wellington, dink die krisis – en Ramaphosa se bestuur daarvan – sal beslis in die toekoms histories beoordeel word.

“My mening is wel dat hy veel beter vir die hantering van die pandemie beoordeel sal word as wat die destydse koue en kliniese Mbeki se pseudo-intellektuele dwaling – gebaseer op kwaksalwery en samesweringsteorieë – tereg beoordeel word,” sê Schwella.

“Ramaphosa konsulteer dalk te veel, in teenstelling met Mbeki wat hom in sy alwysheid aan geen ander mening as dié van sy volgelinge wou steur nie. Ramaphosa dra ook sy boodskappe empaties en menslik oor.”

Hy sê Mbeki het ’n oormaat selfvertroue gehad, was onoortuigbaar en heeltemal verkeerd.

“Ramaphosa aanvaar daarteenoor dat hy nie alwetend is nie en erken meestal wanneer hy verkeerd is. Gelukkig vir hom is dit boonop vir hom makliker om Dlamini-Zuma (aan die hoof van die regering se hantering van die pandemie) te verwyt – selfs wanneer hulle albei verkeerd is.”

Ongelukkig lyk dit asof hy en sy regering tans nie die mas opkom nie. Hulle lyk ontsettend onbeholpe.

Roland Henwood, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria, sê Ramaphosa se termyn word deur die een uitdaging ná die ander gekenmerk.

“Ongelukkig lyk dit asof hy en sy regering tans nie die mas opkom nie. Hulle lyk ontsettend onbeholpe.”

Volgens Henwood is die pandemie die jongste groot uitdaging vir Ramaphosa.

“Eers was daar die nalatenskap van oudpres. Jacob Zuma, die korrupsie (deur ANC-lede) wat na vore gekom het, die agteruitgang en die afgradering van die ekonomie, die verdeeldheid binne die ANC en nou ook die Covid-19-pandemie,” sê hy.

“Die Covid-19-kwessie het op sy beurt verskillende dimensies. Die eerste was die pandemie self, toe die enorme korrupsie van ANC-lede (met onder meer die aankoop van persoonlike beskermende toerusting) en toe kom die huidige oënskynlike onvermoë van die regering om die virus te bestuur binne die konteks van ’n inentingsveldtog. Tans is daar die kwessie oor die beskikbaarheid van entstowwe en die bestuur daarvan.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Thabo Mbeki  |  Jo-Ansie Van Wyk  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.