Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Paneel wat oor OB moet beslis, kry meer tyd
Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Conrad Bornman

Die onafhanklike paneel wat die parlement gaan help om oor die lot van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), te beslis, se werkstyd is van 30 tot 90 dae verleng.

Die komitee het die afgelope Woensdag die eerste keer vergader en toe besluit om Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), te versoek om hul werkstyd van 30 dae, soos die parlementêre reëls voorskryf, tot 90 dae te verleng.

Dit onder meer omdat die omvang van die getuienis teen Mkhwebane “lywig” is.

Die paneel bestaan uit regter Bess Nkabinde (voorsitter), ’n afgetrede regter in die konstitusionele hof, sowel as adv. Dumisa Ntsebeza SC en adv. Johan de Waal SC.

Die paneel moet bepaal of daar prima facie-gronde bestaan vir die parlement om met ’n amptelike ondersoek te begin om Mkhwebane uit die kussings te lig. Die DA het die mosie teen haar ingedien.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Saterdag in ’n verklaring gesê die paneel se versoek is gegrond op “die feit dat die getuienis wat hulle moet evalueer lywig is”, terwyl hulle ook die OB ’n redelike tyd moet gun om voorleggings daaroor te maak.

“Die paneel het daarom die speaker gevra om sy tydsraamwerk van 25 November af vir 90 dae te verleng.”

Volgens Mothapo het Modise die paneel se versoek oorweeg en bevind dat dit onder die omstandighede redelik is.

Volgens Mothapo het Modise ook daarvan kennis geneem dat die huidige reëls wat die tydperk van 30 dae vir die paneel voorskryf, nie vir ’n verlenging voorsiening maak nie.

“Sy het daarom besluit om haar te beroep op reël 129X van die reëls van die NV wat die speaker in staat stel om ’n tydelike reël in te stel om die huidige leemte in die reëls met betrekking tot ‘onvoorsiene gebeurtenisse’ te vul.

“Die reël wat die speaker ingestel het om die paneel se werkstyd van 30 dae na 90 dae te verleng sal in die parlement se amptelike publikasies aangedui word.”

Intussen het die hooggeregshof in Kaapstad verlede week Mkhwebane se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys. Haar aansoek volg nadat dieselfde regters op 9 Oktober vanjaar haar aansoek vir ’n dringende interdik ook met koste van die hand gewys is.

Sy het gehoop dat dié interdik die parlementêre proses teen haar tydelik sou stuit terwyl sy haar hoofaansoek afhandel om die grondwetlikheid van die reëls waarvolgens sy uit haar amp verwyder kan word, te betwis.

Die DA het vroeër vanjaar ’n mosie teen Mkhwebane ingedien ná ’n reeks verdoemende hofuitsprake teen haar.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Ob  |  Ondersoek  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.