Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement besorg oor Ingonyama se kritiek

Die parlement het Woensdag in ’n sterk bewoorde verklaring sy diepe besorgdheid oor die voortslepende “openbare kastyding en aanvalle” deur die Ingonyama-trust op oudpres. Kgalema Motlanthe en die akademikus dr. Aninka Claassens uitgespreek.

Motlanthe was die voorsitter van die hoëvlakpaneel wat ondersoek gedoen het na sleutelwetgewing, terwyl Claassens, grondkenner en senior navorser aan die Universiteit van Kaapstad, ’n lid van die paneel was.

Kgalema Mothlanthe

Die paneel, wat deur Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, op die been gebring is, het onder meer aangevoer dat die Wet op Ingonyama-trustgrond herroep moet word. Die trust besit sowat drie miljoen hektaar grond in KwaZulu-Natal. Die voorgestelde herroeping is juis sodat die grondbesit van die betrokke gemeenskappe en inwoners verseker kan word.

Die paneel het gesê dat as die herroeping nie dadelik moontlik is nie, moet aansienlike wysigings aan die wetgewing gemaak word.

Die paneel het onder meer in sy verslag daarop gewys dat mense wat op die grond woon, gekla het dat ontwikkeling sonder hul toestemming op die grond plaasvind en dat die voordele nie aan die inwoners gaan nie, maar aan die trust.

Luidens die parlement se verklaring het die verslag van die hoëvlakpaneel gevolg op twee omvattende openbare raadplegingsprosesse in alle provinsies om die siening van Suid-Afrikaners oor die impak van sleutelwetgewing op hul lewens te kry.

Die verslag is in parlementêre dokumentasie gepubliseer en sal deur die twee rade van die parlement verwerk word. “Openbare raadpleging oor die paneel se bevindinge en aanbevelings sal deel vorm van die proses voordat die parlement ’n finale besluit neem. Die Ingonyama-trust en gemeenskappe wat woon op die grond wat deur die trust bestuur word, sal onder diegene wees wat geraadpleeg sal word wanneer die openbaredeelnameproses plaasvind.”

Die parlement het beklemtoon dat die verslag se bevindinge en aanbevelings nie die persoonlike menings of wense van die paneellede is nie, maar uit die menings van gewone Suid-Afrikaners en verskeie sektore spruit.

Die parlement het ’n grondwetlike verpligting om na die mening van alle Suid-Afrikaners te luister en dit te oorweeg, nie net na dié van organisasies met baie mag of invloed nie.

“Die parlement het ’n grondwetlike verpligting om na die mening van alle Suid-Afrikaners te luister en dit te oorweeg, nie net na dié van organisasies met baie mag of invloed nie.

“Die trust se openbare houding oor die voorstelle in die verslag, selfs voordat dit oorweeg is deur die parlement of met die publiek of rolspelers bespreek word, dui op ’n poging om debat te smoor en die parlement te intimideer om sy grondwetlike verpligtinge uit te voer.

“Dit sal jammer wees as dit die trust se voorneme is omdat dit nie die aard van die nasionale wetgewer is om die knie te buig voor die boelietaktiek van werwingsgroepe of sektorale belange nie.”

Die instelling het ’n beroep op die trust gedoen om die parlementêre proses te eerbiedig en aan die openbare raadplegingsproses deel te neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.