Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement hoor hoe gewild is Gigaba onder Guptas

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, was glo baie gewild onder lede van die Gupta-familie.

Die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake het dit Woensdagoggend gehoor toe Rudie Heyneke, portefeuljebestuurder vir vervoer van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), voor die kommissie in dié se ondersoek na die vervroegde naturalisasie van die nou voortvlugtige Guptas getuig het. Die ondersoek het amptelik Woensdagoggend begin met Heyneke as eerste getuie.

Malusi Gigaba

Gigaba is een van die talle getuies wat later voor die komitee sal getuig.

Die portefeuljekomitee moet ondersoek instel en bepaal of daar enige ongerymdhede was in die departement van binnelandse sake se destydse besluit om vervroegde naturalisasie aan die Guptas toe te staan. Die komitee is een van vier, insluitend dié oor openbare ondernemings, minerale bronne en vervoer wat verlede jaar deur die parlement opdrag gegee is om bewerings van die Guptas se betrokkenheid by staatskaping te ondersoek.

Heyneke het in sy getuienis gesê dat Outa die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse deeglik ontleed het.

Die organisasie het selfs vroeër ’n verslag oor hul bevindinge aan Baleka Mbete, speaker van die parlement, oorhandig en strafregtelike klagte teen geïmpliseerdes by die polisie ingedien het.

Volgens Heyneke was Gigaba baie gewild onder die Guptas.

“Hy is deur hulle uitgenooi na verskillende gebeurtenisse soos Diwali-feesvieringe, die Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi, New Age-aandetes, die Guptas se Sun City-troue en die Guptas se Suid-Afrikaner van die Jaar-toekenningsplegtigheid.

“Daar is egter nie baie inligting in die GuptaLeaks oor die vervroegde naturalisasie nie. Ons weet egter daaruit dat Ndifelani Dombo van die departement van binnelandse sake vereistes aan Ashu Chawla, ’n Gupta-werknemer, gestuur het. Op 30 Mei 2015 het Gigaba ’n amptelike brief onderteken om die Gupta-familie vervroegde naturalisasie toe te staan.

“In September 2015 het Chawla weer aan Gigaba geskryf in verband met nog ’n motivering vir ’n vervroegde naturalisasie vir Varun Gupta, Tanvi Gupta en Kanishk Gupta. Die minister het dit goedgekeur. ’n Sertifikaat van naturalisasie is op 17 Desember 2015 uitgereik.”

Heyneke het bygevoeg dat die #GuptaLeaks-e-posse daarom ’n noue verhouding tussen Gigaba en die Guptas skilder.

Volgens hom het Gigaba ook opdrag gegee dat twee werknemers van die departement in Nieu-Delhi en Mumbai in Indië ontplooi word ondanks die feit dat daar geen vakatures of poste daar beskikbaar was nie.

Patrick Chauke, voorsitter van die komitee, het vroeër aan LP’s gesê dat die twee werknemers ook sal getuig voor die komitee omdat hulle na beweringe alle visums en permitte vir die Guptas in Indië gefasiliteer het.

Die sitting duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.