Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement hoor oor sukses van bende-eenheid

Die onderskeie regeringsfere moet ophou om misdaad vir hul eie agendas te verpolitiseer en eerder meer na die gemeenskappe wat daaronder ly, begin luister.

Bheki CeleFoto: Peter Abrahams

Dít was Dinsdag die pleidooi van Michael Jacobs, adjunkvoorsitter van die Mitchells Plain Verenigde Inwoners-vereniging, toe hy die parlement se portefeuljekomitee oor die polisie toegespreek het.

Jacobs en ander gemeenskapsleiers van gebiede wat erg onder bendeverwante misdaad gebuk gaan, het die portefeuljekomitee toegespreek nadat Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, verslag gedoen het oor die vordering en suksesse van die gespesialiseerde bende-eenheid.

Die komitee het gehoor hoe hierdie spesialis-bende-eenheid in die Wes-Kaap, wat pres. Cyril Ramaphosa in November bekend gestel het, en ander taakspanne wat ook op bendes in veral Gauteng, die Oos-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal fokus, tot dusver reeds op meer as 60 verskillende bendes landwyd toegeslaan het.

Hiertydens is 334 verdagtes aangekeer en daar word 2 352 sake landwyd teen bendelede ondersoek.

Daar is ook beslag gelê op 104 ongelisensieerde vuurwapens en 13 voertuie van bendes.

Net in die Wes-Kaap, waar die bende-aktiwiteite die ergste is, is 20 verskillende bendes geïdentifiseer, 221 verdagtes in hegtenis geneem en op 77 vuurwapens beslag gelê.

Ek glo dat as ’n mens nie die moorde kan bekamp nie, jy nie in staat sal wees om die misdaad in die algemeen te kan bekamp nie.

Sitole het gesê hoewel die bende-eenheid en taakspanne aktief is in bogenoemde provinsies, is dit ’n nasionale benadering en is die plan om die bende-eenhede landwyd te ontplooi.

Die komitee het ook gehoor hoe daar net in die afgelope boekjaar 800 mense deur bendes in gemeenskappe op die Kaapse Vlakte vermoor is.

Jacobs het gesê die verskillende regeringsfere luister nie na die gemeenskappe nie. “Hulle bevorder hul eie politieke agendas en het misdaad verpolitiseer. Hulle is meesters daarmee om voortdurend ander te blameer.

Genl. Khehla SitoleFoto: Melinda Stuurman

“Die stad (Kaapstad) het veral selektief die metropolisie gebruik om misdaad in wit gemeenskappe te beveg, terwyl armer gemeenskappe soos Nyanga en Khayelitsha afgeskeep word.”

Avril Andrews is ’n stigterslid van die organisasie Moms Move for Justice wat ouers wie se kinders in bendegeweld dood is, verteenwoordig. Volgens haar moet alle vuurwapens uit die geraakte gemeenskappe verwyder word. “Ons het die vernietigende impak van vuurwapens ervaar wat teen ons mense deur bendelede gebruik word en ons eis dat alle vuurwapens, wettig of onwettig, in ons gemeenskappe verbied word.”

Cele het alle gemeenskappe in die land gevra om saam met die polisie te werk om bendebedrywighede te bekamp. “Daar is die opvatting dat bende-aktiwiteite ’n rassekwessie is. Dit is nie.”

Volgens hom het hy sedert sy aanstelling as minister die meeste van sy tyd in die Wes-Kaap deurgebring.

“Hoewel Gauteng die hoogste misdaadsyfers het, was ek in die Wes-Kaap omdat die moordsyfer hier die hoogste is, soos in Nyanga en Philippi.

“Ek glo dat as ’n mens nie die moorde kan bekamp nie, jy nie in staat sal wees om die misdaad in die algemeen te kan bekamp nie.”

Sitole het bygevoeg dat daar met die insette van gemeenskaplede die bereidwilligheid gesien is om saam met die polisie teen misdaad en bendes te werk.

“Ons is besig om aan ’n nasionale raamwerk vir misdaadvoorkoming te werk.”

Volgens hom het Ramaphosa in sy staatsrede verlede week ook ’n nasionale strategie vir gemeenskapspolisiëring aangekondig. “Hy het versoek dat al die gemeenskappe saam met die polisie moet werk,” het Sitole gesê.

Meer oor:  Bende-Eenheid  |  Michael Jacobs  |  Mitchells Plain  |  Parlement  |  Misdaad  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.