Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement keur nuwe Opod-hoof goed

Die aanstelling van Jennifer Dikeledi Ntlatseng as die nuwe hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die groen lig van die parlement gekry.

LP’s was egter Woensdag op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie verdeeld oor of daar weens moontlike wetlike probleme met die proses voortgegaan moet word.

Ingevolge die Wet op die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat moet ’n nuwe hoof binne 12 maande vir die polisiewaghond aangestel word. Dié pos is egter vakant sedert 28 Februarie 2019 toe Robert McBride se termyn tot ’n einde gekom het. Boonop het die Helen Suzman-stigting gewaarsku daar moenie met die aanstelling voortgegaan word nie omdat die appèlhof nog sy saak moet aanhoor waarin hy vra dat McBride heraangestel word.

Verder het die hof in ’n afsonderlike saak die parlement beveel om die Wet op Opod te wysig.

 Jennifer Dikeledi Ntlatseng
Jennifer Dikeledi Ntlatseng. Foto: LinkedIn

Andrew Whitfield, DA-LP, sê die betrokke wetgewing moet eers gewysig word voordat die komitee die aanstelling goedkeur. Omdat die wysigingsproses tot ’n jaar kan neem, het die meerderheid LP’s egter gesê dit is in die openbare belang dat daar met die aanstelling voortgegaan word, veral in die lig van beweringe oor magsvergrype deur die polisie gedurende die nasionale ramptoestand wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is.

Hulle voel ook Ntlatseng, voormalige direkteur van gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het die nodige kwalifikasies vir die pos.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die komitee, het gewaarsku dat die kwessie nie verpolitiseer moet word nie.

“Ons kan nie toelaat dat daar ’n donker wolk oor die aanstelling hang nie,” sê sy.

“Ons ondersteun die kandidaat wat voorgestel word ten sterkste. Ons is oortuig daarvan die proses was robuus en dat ons ’n individu met die nodige ervaring en met grondige kennis van die strafregstelsel aanstel.”

Joemat-Pettersson het Bheki Cele, minister van polisie, wat op die sitting teenwoordig was, opdrag gegee om ’n omvattende verslag aan die parlement te oorhandig oor hoekom daar met die aanstelling gesloer is. Intussen sal die parlement erns daarvan maak om die betrokke wetgewing oor Opod te wysig.

Volgens Cele kon die paneel wat op die been gebring is om die aanstelling te doen in Februarie nie ’n geskikte kandidaat vind uit almal wat vir die pos aansoek gedoen het nie. Die proses om ’n geskikte kandidaat te kry moes toe van voor af begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.