Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement moet nou besluit oor Jiba, Mrwebi
Adv. Nomgcobo JibaFoto: Argief

Was pres. Cyril Ramaphosa se besluit om adv. Nomgcobo Jiba en adv. Lawrence Mrwebi, twee omstrede voormalige hooggeplaastes in die nasionale vervolgingsgesag (NVG), uit hul poste te verwyder wettig?

Dít én of daar enige gronde is om die twee weer in hul ou NVG-poste her aan te stel is waaroor LP’s by die parlement vinnig ’n besluit moet maak.

Dié LP's het dit Woensdag tydens ’n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, en die verkose komitee oor sekuriteit en justisie, gehoor toe die parlement se regsadviseurs daardie advies aan hulle gegee het.

Vroeër is berig hoe Ramaphosa ná ’n onlangse konstitusionele hofuitspraak dat Jiba en Mrwebi se name nie van die Balieraad geskrap moet word nie, gesê hy staan by sy besluit om hulle uit hul poste te verwyder.

Hy het die twee in April afgedank nadat die Mokgoro-ondersoek bevind het Jiba, toe nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, en Mrwebi, toe hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, is onbevoeg vir hul NVG-poste.

Wetgewing maak voorsiening vir die parlement om te oorweeg of Jiba en Mrwebi heraangestel moet word.

Bulelani Magwanishe en Shahidabibi Shaikh, voorsitters van die onderskeie komitees, het Woensdag ná die sitting in ’n gesamentlike verklaring gesê die regsadvies het verder gelui dat die komitees ook alle relevante dokumente moet oorweeg en of hulle verdere getuienis wil aanvra.

Die dokumente sluit in die brief en ondersteunende dokumente van Ramaphosa waarin hy die redes uiteensit vir die twee se verwydering, asook die Mokgoro-ondersoek se verslag en voorleggings van sowel Jiba as Mrwebi.

“In terme van die tydlyn vir ’n besluit deur die parlement is ons geadviseer dat die parlement ingevolge wetgewing binne 30 dae nadat die boodskap ter tafel gelê is, of so gou daarna, ’n besluit moet maak.

“Die voorsitters het aangedui dat hulle eers nog ’n gesamentlike vergadering later wil hou waarna ’n besluit gemaak sal word,” lui hul verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.