SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘Parlement moet waghond, nie skoothond wees’ – Steenhuisen

Die parlement “moet van ’n skoothond in ’n waghond verander en weer sy tande wys”.

Dit was John Steenhuisen se woorde toe hy joernaliste by die parlement Donderdag die eerste keer toegespreek het sedert hy verlede week tot tussentydse DA-leier verkies is.

John SteenhuisenFoto: MELINDA STUURMAN

Hy glo dat die volle omvang van die skade wat deur staatskaping aangerig is, nog nie openbaar gemaak is nie, en dat dit geslagte sal neem om dit ongedaan te maak.

“Dit kon alles voorkom gewees het as die parlement sy werk gedoen het,” het hy gesê.

Oorsig oor die parlement kan volgens hom verskerp word deur ’n aantal ingrypings, waaronder om dadelik ’n staande komitee tot stand te bring wat oor die presidensie toesig hou, en deur die land se kiesstelsel van ’n proporsionele na ’n hibriede stelsel te verander.

Steenhuisen, wat by Mmusi Maimane oorgeneem het nadat dié verlede maand as DA-leier bedank het, sê daar is nou groter samehorigheid in die koukus.

Hy wil toesien dat DA-LP’s met nuwe idees oor hul portefeuljes vorendag kom, en het ’n program daarvoor bekend gestel wat as “Blou Toekoms” bekend staan.

Die DA moet ook meer konstruktief te werk gaan en nie net die heeltyd die ANC kap nie.

“Kiesers is moeg vir die oor-en-weer-beskuldigings. Die DA moet die party van idees word en alternatiewe, werkbare oplossings bied.”

Steenhuisen het op ’n vraag erken die party is die afgelope 18 maande deur swak dissipline gekenmerk.

“Die tyd vir LP’s om met mekaar deur sosiale media of koerantrubrieke te praat, moet tot ’n einde kom. Mense is gefrustreerd en kwaad. Skenkers (aan die party) is gefrustreerd en kwaad. Ek sal baie streng wees.

“Ek sal persoonlik leiding neem om met die oortreders te handel. Ek het reeds vandeesweek taai gesprekke met twee individue gehad wat ek reken in hul spoor moet trap. Ek dink die party het daardie sterk, besliste leierskap in die middel nodig.”

Landburgers wil nie volgens hom sien hoe politici met mekaar baklei nie. Hulle moet vir die mense baklei, sê hy.

Steenhuisen reken nie die DA het noodwendig ’n swart leier nodig nie, maar ’n “sterk en besliste leier” om die party vorentoe te neem.

Hy het herhaal dat ras in Suid-Afrika saakmaak, omdat miljoene mense in die land in armoede leef. Die oorgrote meerderheid van hierdie mense is swart en hulle leef in armoede omdat hulle uitgesluit is van geleenthede weens rasgebaseerde beleid wat teen hulle gediskrimineer en hulle gemarginaliseer het. Mense wat dit ontken, is naïef, sê hy.

Die maak vir hom sin dat Gwen Ngwenya, voormalige DA-beleidshoof wat ook voorheen gemoeid was met die hersiening van partybeleid, in dié pos behoort te wees eerder as dat ’n nuwe kandidaat aangestel word, gegewe die kort tydperk tot die party se beleidskonferensie in April. Dit is egter nie ’n besluit wat hy kan neem nie; die party se federale leierskap vergader Vrydag, waar die kwessie bespreek sal word.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da-Leier  |  Politiek  |  Parlement  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.