Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Parlement ‘oorweeg ATM se mosie van wantroue teen Cyril’

Die parlement oorweeg tans of die African Transformation Movement (ATM) toegelaat sal word om ’n mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa in te stel.

So het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, Donderdag gesê in reaksie op vrae oor dié mosie wat die ATM vroeër by haar kantoor ingedien het.

Die ATM sukkel sedert sy stigting kort voor die 2019-verkiesing om beweringe af te skud dat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, ’n hand in sy totstandkoming gehad het.

Magashule, ’n stoere ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma, word tans as Ramaphosa se grootste teenstander in die ANC beskou.

Modise het Donderdag bevestig dat haar kantoor die mosie ontvang het en dit oorweeg. “Dit moet ons tevrede stel dat dit aan al die vereistes voldoen, maar ons hanteer dit tans.”

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DAILY SUN

Vuyolwethu Zungula, ATM-president en -LP, het Donderdag in ’n verklaring oor die mosie geskryf dat sy party Ramaphosa sedert die begin van die sesde administrasie die voordeel van die twyfel gegee het, maar dat die land onder sy presidentskap net verder agteruitgaan.

Volgens Zungula was daar beraad ná beraad, belofte ná belofte, een beleggingskonferensie ná die ander, jeug- en vroue-berade, “maar steeds hou die land aan met sink”.

“Ramaphoria bestaan nie meer nie.

“Die Nuwe Dagbreek wat belowe is, het feitlik in ’n nagmerrie vir elke landsburger ontaard. Die 3%-groei wat pres. Ramaphosa gedurende sy verkiesingsveldtog belowe het, was niks anders as ’n lugspieëling nie. Die land se ekonomie het verder verswak met dalende groeikoers-vooruitskattings wat ’n norm geword het.”

Zungula het bygevoeg dat Suid-Afrika verder swem in ongekende skuldvlakke, met geen teken van herstel nie.

“Nie ’n enkele graderingsagentskap of die Internasionale Monetêre Fonds-voorspellings het ’n positiewe uitkyk vir die land nie.”

Sedert Ramaphosa president geword het, het korrupsievlakke volgens Zungula ook drasties verhoog, “met onreëlmatige uitgawes wat vir die eerste keer ’n hoogtepunt van R60 miljard in 2018-’19 bereik het, ’n allemintige R10 miljard-styging, maar niemand word hiervoor aanspreeklik gehou nie”.

“Werkloosheid, toenemende armoede en hopeloosheid word vinnig ’n bepalende eienskap van Suid-Afrika.

“Die algemene vlakke van geweld en wetteloosheid, veral by skole, en wreedheid teenoor vroue is op ’n nuwe hoogtepunt.

“Dit is ’n duidelike teken van ’n siek samelewing onder Ramaphosa. Suid-Afrika was nooit soos nou nie. Ons soek ons land terug.

“Die skip het geen kaptein nie, genoeg is genoeg.

“Om hierdie swak prestasie verder te verdra, maak ons medepligtig aan hierdie gemors.”

Volgens Zungula is dit teen bogenoemde agtergrond dat die ATM sy mosie van wantroue teen Ramaphosa ingedien het, omdat Suid-Afrikaners veel beter as dit verdien.

Meer oor:  Atm  |  Thandi Modise  |  Parlement  |  Wantroue  |  Mosie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.