Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Partye kan vir oulaas geld by provinsies skep

Provinsiale regerings sal dié verkiesingstyd vir die heel laaste keer openlik geld aan politieke partye kan skenk.

Voorlopige regulasies wat die toepassing van die wet op finansiering van politieke partye kort voor die komende verkiesing moet afdwing, is Donderdag deur die Verkiesingskommissie (OVK) aan politieke partye oorhandig. Die verbod is eers ná die verkiesing van krag.

Tot dusver kon politieke partye enige skenkings aanvaar sonder om dit te verklaar. Die nuwe wet, wat ses maande op pres. Cyril Ramaphosa se lessenaar gelê het voordat hy dit op 23 Januarie onderteken het, verbied partye om skenkings van meer as R15 miljoen te ontvang en verplig hulle om skenkings van meer as R100 000 aan die OVK te verklaar.

“Soos ek verstaan, kan politieke partye tot 1 April steeds enige skenkings aanvaar. Dit beteken die groter partye kan nog vir oulaas skenkings uit allerhande oorde ontvang vir die verkiesing. Dit laat my dink dat die vertraging met die ondertekening van die wet kwaadwillig was,” sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

“Ons bedoeling was dat die wet betyds afgehandel moet word sodat dit ten volle van krag kan wees in vanjaar se verkiesing. Die presidensie sê daar is kommer oor grondwetlike aspekte van die wet. Die parlementêre komitee wat die wet opgestel het, het egter seker gemaak daar is geen konstitusionele kwessies nie, juis om vertragings te voorkom.”

Sommige provinsiale regerings het hul eie wetgewing geskep om geld vir politieke partye te bewillig. In Gauteng, waar die ANC 40 van die 73 setels in die provinsiale wetgewer het, maar waar die party sy meerderheid op 8 Mei kan verloor, beloop dié bedrag op die oomblik sowat R1 miljoen per setel per jaar.

Die inwerkstelling van die wet is uitgestel sodat provinsies eers die provinsiale wetgewing oor skenkings kan skrap.

Sy Mamabolo, uitvoerende hoof van die OVK en die hoofkiesbeampte in die komende verkiesing, sê egter politieke partye sal reeds in dié verkiesing ’n geouditeerde staat by die OVK moet indien wat wys van wie hulle geld gekry het.

Meer oor:  Sy Mamabolo  |  Verkiesing 2019  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.