Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Partye vra: Waarom die gesloer met wet?

Dit bly ’n raaisel vir sommige opposisiepartye waarom die president langer as ’n jaar geneem het om aan te kondig wanneer wetgewing oor partyfinansiering in werking tree.

Hoewel partye die aankondiging van pres. Cyril Ramaphosa Vrydag verwelkom het, is daar benadruk dat dit al lank agterstallig is sedert hy dit in Januarie 2019 bekragtig het.

Hy het die oggend aangekondig dat die Wet op die Finansiering van Politieke Partye vanaf 1 April vanjaar van krag sal wees.

Die EFF sê die wet is ’n stap in die regte rigting deur die “landskap te verander vir politiekepartyfinansiering en deursigtigheid te bevorder” met skenkings aan partye wat verklaar moet word.

Dié skenkings sal kwartaalliks deur die Verkiesingskommissie (OVK) bekend gemaak word.

Volgens die EFF was dit hoog tyd dat die wet bekragtig word. Die party is egter nie verras dat Ramaphosa so lank geneem het om wetgewing wat deursigtigheid bevorder in werking te stel nie.

“Dit is ’n grondwetlike reg om toegang tot inligting te hê, sodat daar deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die regering is,” lui ’n verklaring.

Die EFF sê om dié rede doen hy ’n beroep op Ramaphosa om die dokumente van sy ANC-verkiesingsveldtog in 2017 beskikbaar te stel. “As die president moet hy ’n voorbeeld stel en onmiddellik sy finansierders bekend maak.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het dit ook verwelkom dat die datum aangekondig is en sê sy party het ’n leidende rol daarin gespeel.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. Foto: Nasief Manie
Brett Herron, sekretaris-generaal van Good. Foto: Jonathan Lestrade/SON

“Die veranderinge was nodig om deursigtigheid te bevorder wat die finansiering van politieke partye betref. Veral skenkings van onbekende skenkers was ’n teelaarde vir korrupsie.”

Volgens Groenewald het die VF Plus nog voordat die ANC die proses begin het, gesê hy is bereid om hom tot die hof te wend as die wetgewing nie gewysig word om private finansiering van partye bekend te maak nie.

“Kiesers het die reg om te weet wie gee hoeveel geld vir die regerende party aangesien skenkings gesien kan word as omkoopgeld om staatstenders te bekom.”

Groenewald sê die president “spog nou dat die nuwe wet deursigtigheid sal verseker”, maar vra waarom hy langer as ’n jaar gesloer het om dit onderteken.

Die VF Plus sê hy het reeds sedert einde 2018 druk op Ramaphosa geplaas, onder meer met vrae in die parlement.

“Die antwoord was vaag en het daarop neergekom dat die regulasies vir die wet nie in plek was nie,” lui ’n verklaring van Groenewald.

Hy het ook daarop gewys dat die nuwe model vir die finansiering van partye deur die staat een derde van die fondse gelykop tussen partye verdeel en die res proporsioneel.

Volgens die VF Plus is dié model billiker as die vorige een waar “die belastingbetaler effektiewelik betaal het om ’n korrupte regering se verkiesingstryd te finansier”.

“Skenkers kan steeds geld aan politieke partye skenk, maar enige bedrag bo R100 000 moet verklaar word.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, sê daar is lank op dié wetgewing gewag wat noodsaaklik is om die invloed van private belange op beleid, die regering se besluitneming en besteding uit die weg te ruim.

Hy het Ramaphosa se aankondiging verwelkom en voer aan dat dit belangrik is om die demokrasie te versterk deur toe se sien dat politieke prosesse en mandate van kiesers nie “deur geld” belemmer word nie.

“Dit is ’n kritieke stap in die bou van ’n ware moderne demokrasie,” sê Herron in ’n verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.