Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mangosuthu Buthelezi lê tuig huilend neer: 'My tyd is kort'

Mangosuthu Buthelezi (90), IVP-leier, lê die tuig ná 40 jaar neer.

Buthelezi het Saterdag sy uittreetoespraak gelewer op die party se nasionale verkiesingskonferensie in KwaZulu-Natal. Hy het teen die einde van die toespraak begin huil voordat hy gesê het sy tyd is verby.

Dr. Mangosuthu Buthelezi Foto: Lerato Maduna

Sy uittrede kom ná verskeie soortgelyke aankondings wat hy reeds sedert 2017 gemaak het. Hy het in Mei, kort ná die verkiesingsuitslae bekend gemaak is, gesê hy sal homself nie weer as leier beskikbaar stel vir die party wat hy sedert sy stigting in 1975 lei nie. 

Buthelezi het ook in Maart vanjaar sy vrou, Prinses Irene (89), verloor. Sy is ná ’n lang en moeilike siekte in Kwa-Phindangene dood. Buthelezi, wat aanstaande week 91 word, het in sy toespraak gesê hy is tevrede met wat hy bereik het, maar hy word nou oud. "My tyd is kort. Daar is soveel wat ek nie sal sien nie.

"Ons het op voetsoolvlak oor kwessies vergader, nie soos die hedendaagse WhatsApp-groepies en Facebook nie," het hy geskerts. 

Hy het gesê hy is vol vertroue dat die nuwe leierskap die party na nuwe hoogtes sal lei. "Dit is net die begin vir die IVP." 

Toe hy gesê het sy tyd is verby, het hy gesê hy sal die nuwe leier ten volle ondersteun en bewoë geraak voordat hy 'n minuut lank stilgebly het.

"Op die lang pad wat ek gestap het, is ek dankbaar vir almal wat dit saam met my geloop het."

Hy het die toespraak afgesluit deur in Zoeloe, Tswana en Afrikaans te groet: "Ngiyabonga! Realeboga! Baie dankie!"

Mangosuthu Buthelezi (regs), leier van die Inkatha Vryheidsparty, en Velenkosini Hlabisa, die man wat hy voorgestel het as sy opvolger. Foto: TWITTER

Intussen word wyd bespiegel dat Velenkosini Hlabisa, sekretaris van die party in KZN, Buthelezi se opvolger sal wees.

Verder word beweer dat Buthelezi Hlabisa persoonlik uitgekies het, maar hy het in Mei gesê: “Ek het ook nie my opvolger benoem nie en ek sal dit ook nie doen nie, omdat die IVP ’n demokratiese party is met ’n grondwet, reëls en prosedures.”

Hlabisa, wat sy politieke loopbaan in 1978 begin het toe hy lid van die IVP geword het, is in 1983 tot ’n takvoorsitter verkies.

Hy het later ook die leiersposisie as nasionale sekretaris van die IVP-Jeugbrigade beklee en het 22 jaar se ondervinding in plaaslike regerings.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, het Saterdag gesê 'n verskiesing sal later Saterdagaand gehou word. Die uitslae sal waarskynlik eers in die vroeë oggendure van Sondag bekend wees.

Lees ook: Buthelezi se loopbaan vol kinkels 

Meer oor:  Ivp  |  Velenkosini Hlabisa  |  Mangosuthu Buthelezi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.