’n Mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa word volgende week in die parlement aangehoor.
Dit sal die eerste keer wees dat Ramaphosa deur so ’n mosie in die parlement in die gesig gestaar word.
Masibulele Xaso, sekretaris van die nasionale vergadering (NV), het Donderdagoggend aan LP’s in die NV se programme-komitee gesê Thandi Modise, speaker van die NV, het hom versoek om LP’s in te lig dat sy so ’n mosie goedgekeur het.
“Daar was ’n versoek van die ATM (African Transformation Movement, ’n politieke party in die parlement) vir ’n mosie van wantroue in die president wat die speaker se kantoor verskeie maande gelede ontvang het. Die speaker het daardie versoek goedgekeur. Ons aanbeveling is dat dit volgende Donderdag, 3 Desember, (in die NV) aangehoor word,” het Xaso gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Gallo Images
Gallo Images Jeffrey Abrahams
Vroeër is berig dat die ATM in Februarie vanjaar – voor die uitbreking van die koronaviruspandemie in Suid-Afrika – die mosie by die parlement ingedien het.
Vuyolwethu Zungula, ATM-president en -LP, het toe oor die mosie gesê dit is ingedien omdat die land onder Ramaphosa se leierskap net verder agteruit boer.
Hy het destyds gesê daar is onder Ramaphosa se leierskap “net beraad ná beraad, belofte ná belofte, een beleggingskonferensie ná die ander, jeug- en vroue-berade, maar die land hou steeds net aan sink”.
Volgens hom het die “Nuwe Dagbreek wat belowe is, feitlik in ’n nagmerrie vir elke landsburger ontaard”.
Daar is ook vroeër berig dat die ATM sedert sy stigting kort voor die 2019-verkiesing sukkel om beweringe af te skud dat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, by sy totstandkoming betrokke was.
Magashule, ’n stoere ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma, word as Ramaphosa se grootste teenstander in die ANC beskou.