Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Metro wil makietie hou eerder as water spaar

Die departement van water en sanitasie behoort sy monitering van die land se waterrade te versterk. Sommige dink dié entiteite is hul “persoonlike ruimte”.

Dít was Donderdag die boodskap van LP’s in die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) aan die topbestuur van die departement.

Skoor het Donderdag sy weeklange ondersoek afgehandel na onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes in die departement.

Waterrade in Suid-Afrika bedryf onder meer damme en ander infrastruktuur vir grootmaatwatervoorsiening en sommige afvalwaterstelsels.

Die departement moet ’n toegewyde amptenaar hê om te verseker dat hulle die regte ding doen. Dit is vir my een van die dringendste dinge waarna die departement moet kyk.
Themba Godi

Japie du Plessis, voorsitter van die departementele ouditkomitee, het aan LP’s gesê die grootste deel van die vrugtelose en vermorste uitgawes van die departement is hoofsaaklik deur die implementeringsagentskappe, waaronder waterrade, aangegaan.

Vergaderings is volgens hom met al die uitvoerende hoofde van die waterrade gehou in ’n poging om die onreëlmatige uitgawes te voorkom.

Deborah Mochotlhi, waarnemende DG, het gesê ’n proses is begin om nouer samewerking tussen waterrade en die departement deur ’n gesamentlike tegniese komitee te verseker. Dit funksioneer op nasionale én provinsiale vlak.

Sy het ook aangedui dat verskeie stappe gendoen is om die finansiële probleme in die departement op te los.

Themba Godi, komiteevoorsitter, het wat waterrade betref, voorgestel dat ’n toegewyde amptenaar die werk van implementeringsagentskappe monitor.

“Die departement moet ’n toegewyde amptenaar hê om te verseker dat hulle die regte ding doen. Dit is vir my een van die dringendste dinge waarna die departement moet kyk,” het Godi gesê.

Ezekiel Kekana, ANC-LP, het gesê hy kry die indruk dat die implementeringsagentskappe net “doen wat hulle wil”.

Nthabiseng Kunou, ANC-LP, het die departement aangemoedig om ag te slaan op die interne oudit en risikokomitees. “As daar nie na hulle geluister word nie, eindig julle waar julle nou is – in die waakeenheid.”

Sy het ook ’n beroep gedoen dat ’n struktuur op die been gebring word om toesig te hou oor die werk van die entiteite.

Godi het gesê daar moet nouer samewerking tussen die departement en waterrade wees. “Daar moet ’n stelsel en proses van aanspreeklikheid wees, want baie geld vloei deur die waterrade. As ons nie die geld volg nie, vloei dit na enige plek.”

Hy het later gesê wanneer mense by entiteite aangestel word, wil dit voorkom asof hulle dink dit is hul “persoonlike ruimtes”.

Du Plessis het in antwoord op ’n vraag deur Godi of Nomvula Mokonyane, oudminister van water en sanitasie, ooit op die briewe gereageer het wat die ouditkomitee aan haar gerig het oor die finansiële situasie van die departement, gesê: “Van die vorige minister, geen reaksie nie.”

Sy het ook nooit met die ouditkomitee vergader nie, het hy gesê.

Daarteenoor het Gugile Nkwinti, huidige minister van water en sanitasie, reeds skriftelike opdragte oor die situasie aan die waarnemende direkteur-generaal gegee. Hy het sedert sy aanstelling in April reeds twee keer met die ouditkomitee vergader.

Meer oor:  Waterrade  |  Water En Sanitasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.