Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Patricia klou aan mag; nie goed vir Kapenaars'
Patricia de Lille in die hooggeregshof in Kaapstad, waar sy Dinsdag as burgemeester van Kaapstad heraangestel is. Foto: Adrian de Kock

Die DA beskuldig Patricia de Lille, heraangestelde burgemeester van Kaapstad, dat sy in ware Zuma-styl vasklou aan mag.

“Die bevel in die hooggeregshof in Kaapstad is nie in die beste belang van die mense van Kaapstad nie. Dit is ongelukkig dat me. De Lille aanhou om haar eie belange voor dié van die inwoners van Kaapstad te stel deur tegniese regspunte te gebruik om aan mag vas te klou.”

Só sê Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, nadat De Lille deur die hof heraangestel is as raadslid en burgemeester van die Kaapstad-metro.

Regter Patric Gamble, wat sy en regter Monde Samela se bevinding Dinsdag in die hooggeregshof voorgelees het, het gesê die hof is werklik bekommerd oor die skade wat aan die mense aangerig word wat De Lille as uitvoerende burgemeester veronderstel is om te dien in die tyd dat sy nie in haar amp is nie.

Die Kaapstad-metro het die diens van sy eerste burger én outomaties dié van die burgemeesterskomitee verloor toe die DA se herroepingsklousule op De Lille van krag gemaak is, het Gamble gesê.

Hy het verder gesê die DA kon nie aan die hof die versekering gee dat Ian Neilson, onderburgemeester, wat intussen as burgemeester waargeneem het, nié ’n nuwe burgemeesterskomitee sou aanstel totdat De Lille se hersieningsaansoek van die DA se besluit om haar uit die DA, stadsraad en as burgemeester uit te skop, afgehandel is nie.

“Dit skep die verdere vraag of die gebruik van die DA se herroepingsklousule nie dalk bedoel is om die burgemeesterskomitee saam met De Lille te herroep nie, en of dit net bykomende skade is. Dié hof hoef gelukkig nie nou hieroor te besluit nie.

Patricia de Lille praat met die media nadat die hooggeregshof in Kaapstad in haar guns beslis het. Foto: Adrian de Kock

“Die hof neem kennis dat De Lille en die DA nie skroom om regsaksies teen mekaar te bring nie. Dit is dus nie onmoontlik dat appèl teen hofuitsprake gemaak sal word nie – terwyl daar die moontlikheid is dat daar verder met die Kaapstad-metro se politieke strukture gepeuter word.

Sulke veranderinge in die burgemeesterskomitee sal nie die Kaapstad-metro baat nie en dit is in die hof se oë ’n belangrike faktor wat in ag geneem moes word.”

Gamble het gesê die hofbevel behels dat die DA se federale uitvoerende komitee se kennisgewing dat De Lille nie meer ’n lid van die party is nie opgeskort word.

De Lille het ná die uitspraak gesê dit gaan nie oor haar nie. “Ek kan nie ophou dink aan die mense van Kaapstad nie. En daarom moet ons nou hierdie tot ’n einde bring. Ons moet bo ons verskille uitstyg vir die mense van Kaapstad.

“Ons moet oor hierdie droogte kom, ons is in die laaste proses om die begroting te finaliseer en daardie vergadering vind op 30 Mei plaas. Daar is baie werk wat gedoen moet word.”

De Lille het gesê dit is nou in die hande van die leierskap van die DA om te besluit of hulle verder wil baklei of met mekaar wil saamwerk om ’n oplossing te vind sodat hulle saam kan baklei vir die mense van Kaapstad.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Da  |  Hofbeslissing  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.