Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Paul Boughey bedank as uitvoerende hoof van die DA

Paul Boughey, uitvoerende hoof van die DA, het uit sy pos bedank kort voor die party sy federaleraadsvergadering die naweek.

Paul Boughey het bedank as die uitvoerende hoof van die DA. Foto: News24

In die DA is die uitvoerende hoof die beampte wat die administrasie van die party lei en uitvoering gee aan die visie van die partyleierskap.

Die party het Donderdag gesê hy het Boughey se bedanking aanvaar. Hy was bykans vyf jaar in die pos.

Boughey sê in ’n brief gedateer 17 Oktober hy tree uit as uitvoerende hoof en het in beginsel ’n ooreenkoms met die DA gesluit. Die brief is aan alle partystrukture gestuur.

Luidens die brief sal die finale besonderhede van die ooreenkoms binne dae bekend gemaak word.

“Ons het talle storms getrotseer en saam moes ons die teleurstellende verkiesingsuitslag van 2019 oorkom. Ek is veral dankbaar dat ek die kans gehad het om regstreeks met James Selfe (uittredende voorsitter van die DA se federale raad) en Mmusi Maimane (partyleier) saam te werk.”

Boughey beskryf Selfe as ’n onbesonge held van die Suid-Afrikaanse demokrasie en sy tyd saam met Maimane as ’n “buitengewone ervaring”.

“Hy het my baie nederigheid, geduld en ’n onwrikbare geloof geleer dat die goedheid van mense sal seëvier.”

Boughey sê ook die DA gaan tans deur ’n belangrike fase van selfondersoek.

Hy meen dit is noodsaaklik ten einde te verseker dat die party sterker word.

“Ek twyfel nie dat die leierskap en die breër ledetal van die DA sal herkalibreer en nog sterker sal word om die uitdagings van die 2021-verkiesing aan te durf nie.”

Boughey het die leierskap voorspoed toegewens en gesê die tyd het aangebreek om die leisels te oorhandig en die leierskap en nuwe voorsitter van die federale raad die ruimte te gee om hul eie koers te bepaal.

Ek twyfel nie dat die leierskap en die breër ledetal van die DA sal herkalibreer en nog sterker sal word om die uitdagings van die 2021-verkiesing aan te durf nie.

Oor die toekoms het Boughey min gesê. Hy het wel laat blyk dat sy twee kinders hom in toekoms heelwat meer sal sien. “Ek wil ook graag my gesin in die openbaar bedank, veral my twee kosbare kinders, wat my die tyd en ruimte gegee het om hierdie avontuur van ’n leeftyd na te streef. Ek wil hulle verseker dat Pa nou baie meer in die omgewing sal wees.”

Sedert die 2019-verkiesing word uit verskeie oorde gevra dat Boughey en Maimane die trekpas moet kry.

Die federaleraadsvergadering sou die naweek ’n verslag bespreek waarin voorgestel word dat die DA nie meer ’n uitvoerende hoof moet hê nie. Die konsepverslag beveel glo ook aan dat Maimane en Boughey albei bedank, en dat die party ’n vervroegde kongres hou om ’n nuwe leier aan te wys.

Anton Bredell, Wes-Kaapse DA-voorsitter, sê hy neem kennis van die bedanking. “Die DA gaan deur diep selfondersoek, iets wat in enige organisasie gebeur.”

Bredell het ook bespiegeling deur die Good-party verwerp dat die DA beplan om Boughey na die Kaapse metroraad te ontplooi. “Ek dink Good is net besig om spoke op te jaag,” sê Bredell.

Helen Zille, Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters ding die naweek mee om by Selfe oor te neem as die DA se voorsitter van die federale raad.

Meer oor:  Da  |  Paul Boughey  |  Bedank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.