Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
PBI sê Peter Marais blaas rassehaat aan

Die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI), ’n gemeenskapsgedrewe party, sien rooi flikker oor uitlatings wat Peter Marais, die Kaapse politikus, oor bruin mense maak.

Die party het Marais, wat onlangs weer die politieke arena in die Wes-Kaap betree het, daarvan beskuldig dat hy rassepolarisasie bevorder en ’n reeds “brose en verdeelde volk” se identiteit en bestaansreg “vir sy eie selfsugtige politieke doelwitte probeer verkwansel”.

Virgill Gericke, president van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI)Foto: Verskaf

Marais het hom verlede maand by die Independent Civic Organisation of SA (Icosa) aangesluit nadat hy jare reeds op sy eie probeer het om bruin bemagtiging te bevorder.

Marais het onder meer in mediaberigte gesê dat: “Bruin mense is in ’n netelige posisie. Daar’s altyd ’n klein plekkie in hulle wat jammer is vir wit mense, al het hulle hóé swaar gekry.”

Volgens Marais het die tyd ook aangebreek dat “die Afrikaner nou sy nonsens op ’n end moet sit en sê hy is blóédverwant aan die bruin mense want die Hollanders het getrou met die Khoi-vroue en kinders gehad by hulle en toe kry jy die Griekwa”.

Die PBI het hom skerp uitgespreek oor, wat hulle noem, Marais se opportunistiese stellings wat poog om dieselfde vrese te gebruik wat sy voormalige apartheidsbevelvoerders gebruik het om swart mense te demoniseer.

“Sy uitlatings is tekenend van die destydse Arbeidersparty-politiek,” het Virgill Gericke, president van PBI, gesê.

Peter Marais, Kaapse politikusFoto: Jonathan Lestrade

Volgens Gericke het die land se grondwetlike bestel geen plek vir “bruin onderdane” wat die wit man steeds verafgod nie.

“Marais se aanname dat bruin mense ’n sagte plekkie vir wit mense het, is ’n regstreekse aanval op die bruin volk se integriteit en selfstandigheid.

Gericke sê Marais moet tot orde geroep word vir sy kwaadwillige uitlatings wat net verdere rassehaat laat opvlam.

Hy sê die siening dat die bruin volk ’n “sagte plekkie het vir wit mense omdat ons afstammelinge is van die Afrikanervolk is pure snert.

“Dis juis onder die apartheidsbestel, wat gedryf is deur die Afrikaner, dat ons in hierdie geweldige pyn en vernedering is waarin ons ons vandag bevind. Ons mag vergewe het, maar nou soek ons mense met alle mag dat restitusie en geregtigheid plaasvind.”

Gericke sê Marais se destydse Arbeidersparty en die Nasionale Party het bruin mense jare lank met die stigma van die swart gevaar probeer indoktrineer.

Volgens die PBI het Marais ook, soos baie ander politici, niks konkreet vir die bruin volk gedoen toe hy in sy baie posisies van mag was nie.

“Hoekom het hy nie toe hy premier van die Wes-Kaap en burgemeester van Kaapstad was die lughawe se naam na Krotoa verander nie?” het die party gevra.

Die PBI glo ook dat Marais se opruiende uitsprake in die naam van die bruin mense nie net vernederend en afskuwelik is nie, maar grens aan fascisme en moet met minagting verwerp word.

Marais sê dit was as gevolg van sy optrede, toe hy destyds nog ’n minister was, dat Saartjie Baartman se oorskot van Frankryk na Suid Afrika gestuur kon word.

“Sy afgesaagde politiek mag nie in my naam bevorder word nie. Hierdie goedkoop politiek verdeel ons as nasie en mag verreikende gevolge inhou vir geslagte wat nog moet kom.”

Marais het by navraag gesê dat hy hom min steur aan die PBI wat duidelik nie ’n party is wat ernstig opgeneem kan word nie. “Hul onkunde wys duidelik,” het Marais gesê.

Marais sê dat dit eerder die ANC is wat rassehaat bevorder.

“Die UDF, wat dieselfde boodskap van swart broederskap verkondig het, is een vir een deur die ANC onder hul agterent geskop,” het Marais gesê.

“Ek het geen wrok teen swart mense nie, maar ek neem kennis hoe bruin mense deur hulle behandel word nou dat hulle die mag bekom het. Ek kan herkoms ook nie as niksseggend afmaak nie. Deur hulself as swart en my as kleurling te beskryf, is dit die ANC wat rassisme aanblaas.”

Marais sê dit was as gevolg van sy optrede, toe hy destyds nog ’n minister was, dat Saartjie Baartman se oorskot van Frankryk na Suid Afrika gestuur kon word.

“Ek het as minister die geld beskikbaar gestel. Ek het ook die Saartjie Baartman-huis vir mishandelde vroue in Athlone tot stand gebring lank voordat die kamtige Khoi-chiefs hulself aangekondig het.”

Meer oor:  Peter Marais  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.