Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Peiling: Afrikaners het 'genoeg gedoen vir versoening'
Christoff van Wyk

Afrikaners voel hulle het genoeg gedoen om versoening in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Só meen die oorgrote meerderheid respondente (70%), wat aan ’n meningspeiling deur die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum vir gemeenskapstudies deelgeneem het.

Christoff van Wyk, bestuurder van dié sentrum, sê die persepsies onder Afrikaners is in die meningspeiling getoets, geëvalueer en ontleed.

Die FAK wou weet wat Afrikaners dink oor sekere kwessies in Suid-Afrika. “Ons het sekere temas geïdentifiseer waaroor ons Afrikaners se menings wil toets en die eerste resultate word nou in hierdie verslag gepubliseer.”

Respondente is op Facebook uitgenooi om die persepsievraelys aanlyn te voltooi.

Die vraelyste is anoniem voltooi, maar die respondente moes hul ouderdom, huistaal, ras en geslag aandui.

Al die respondente het aangedui dat hul huistaal Afrikaans is. Net een was nie wit nie en die meeste was mans.

“Die algemene gevoel onder respondente was dat Afrikaners, wat steeds gebuk gaan onder kastyding vir hul aandadigheid aan of voordeel uit apartheid, tot dusver genoeg gedoen het om versoening te bewerkstellig.”

Dit was die terugvoer van 70% van die respondente.

“Ondanks die feit dat die meerderheid Afrikaners die oppergesag van die wet erken en voorstaan, het ’n groot gedeelte van die respondente (62%) gevoel dat die waardes van die Grondwet, wat die hoogste gesag in die land is, nie hul persoonlike waardes verteenwoordig nie.”

'n Groot gedeelte van die respondente (62%) het gevoel dat die waardes van die Grondwet nie hul persoonlike waardes verteenwoordig nie.
Christoff van Wyk

Die respondente het verder ook die gevoel uitgespreek dat Afrikaners se unieke identiteit grotendeels nie deur ander Suid-Afrikaners erken en gerespekteer word nie.

Van Wyk sê dit is insiggewend dat die meeste respondente sterk daaroor voel om betrokke te wees by ’n kultuurorganisasie, maar wanneer dit kom by die “hoe”, is daar nie baie konsensus nie.

’n Besoek aan Afrikaner-standbeelde is ook nie hoog op die respondente se agenda nie.

Hy meen dit kan die gevolg wees van ’n aantal faktore, waaronder oningeligtheid, afstande tussen standbeelde, besige skedules of bloot net ’n gebrek aan belangstelling.

“In dié verband kan kultuurorganisasies dalk meer moeite doen met bewusmakingsveldtogte oor Afrikaner-standbeelde.”

93% dink die ANC dwing sy vertolking van die geskiedenis op Afrikaners af.

* 94% van die respondente voel dat Afrikanerorganisasies nodig is om Afrikanerbelange te beskerm;

* 93% dink die ANC dwing sy vertolking van die geskiedenis op Afrikaners af; en

* 24% van die manlike millennials (18-35 jaar), wat aan die meningspeiling deelgeneem het, is skaam om in die openbaar te sê: “Ek is ’n Afrikaner”.

Volgens Van Wyk was die doel met die verslag nie soseer om ’n streng verteenwoordigende bevolking te betrek nie, maar eerder om relevante temas te identifiseer.

Hy sê die FAK sal die inligting gebruik om die organisasie te help met strategiese beplanning vir die toekoms.

Meer oor:  Fak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.